
Die meeste eierboere, insluitend groot en kleiner opkomende toetreders tot die bedryf, worstel met stygende insetkoste en behaal nie die nodige opbrengs op hul beleggings nie, sê dr. Abongile Balarane, hoofbestuurder van die eierorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.
Die onlangse aankondiging dat Eskom sy tariewe met 18,65% kan verhoog, sal hulle onder nog meer druk plaas en dit kan tot prysstygings lei, waarsku hy.
“Die koste van voer, brandstof en elektrisiteit verteenwoordig sowat 75% van die eierboer se totale produksiekoste. Al dié koste is buite die boer se beheer. Die bykomende las van toenemend onbetroubare kragvoorsiening en ongerieflike tye van beurtkrag bring bykomende produksiekoste mee.
“Kragonderbrekings is ’n ernstige bedreiging vir ’n hoender se welsyn en verhoog ook die koste daarvan om eiers volgens die vereiste wetgewing te verpak, hetsy deurdat oortyd betaal moet word of weens die koste van brandstof vir kragopwekkers.”
Balarane is egter vol moed dat lede van die eierorganisasie daarna sal streef om eiers te bly produseer, ’n produk wat hy as die “bekostigbaarste, veelsydigste en voedsaamste diereproteïenbron” beskryf.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.