Dít is die vraag wat die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling met die samewerking van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet ondersoek en beantwoord. Daar word lank reeds gevra dat ondersteuningsprojekte, soos Mafisa, Casp en Ilima Letsema, een plan word sodat boere beter steun gebied kan word.
Mnr. Nkhangwe Ramashia van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het aan die portefeuljekomitee gesê dat die Mafisa-geld uitgeput is. Indien ’n boer nou aansoek sou doen om ’n lening van R150 000, sal net R50 000 toegestaan kan word. Hy sê die probleem is dat boere nie hul lenings kan betaal nie, wat beteken dat die tussenganger wat die geld teen ’n rentekoers van 7% per jaar uitleen, nie sy geld kry om dit aan die Land Bank terug te betaal nie.
Die departement het sedert die boekjaar 2005-’06 tot die boekjaar 2009-’10 byna R1 miljard aan die Land Bank vir Mafisa oorbetaal. Ramashia het aanbeveel dat die regering Mafisa moet herfinansier en dat lenings slegs aanvaar moet word vir dinge soos produksiemiddels. Toelaes moet slegs aangebied word vir infrastruktuur soos pakhuise.