
Mnr. André Ferreira, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in Vrystaat (VSRPO), sê weiding wat vee deur die winter moet dra, “verswak by die dag”.
Ferreira sê boere met gemengde boerderye se beste oplossing tans is om hul vee in te jaag in landerye waar byvoorbeeld mielies onlangs ge-oes is, sodat die reste as voer kan dien. “Mense wat nie gemengde boerderye het nie, gaan knor, want voer is baie duur.” Volgens Ferreira behoort die graanreste voer vir tussen 90 en 120 dae lank te kan voorsien.
Huur van lande
Intussen sê mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri-Noordwes, meer en meer boere huur tans landerye by mede-boere om hul vee op te laat wei. Dié landerye het meestal ook oesreste op óf dit is kampe wat gras het wat die boer nie self gebruik nie.
Só ’n transaksie kan ’n boer sowat R130 per kop per maand kos. “Gestel jy het 100 koeie wat jy só laat wei. Van dié koeie kry jy dalk 80 kalwers. As jy die waarde van ’n kalf op R4 000 stel, gaan dit ’n boer omtrent 40 kalwers, of R160 000, kos om sy diere gevoer te hou,” verduidelik Van Vuuren.
Dié metode is tans een van die mees gewilde oplossings vir die weidingskaarste, aangesien voer ongelooflik duur geword het.
Dié provinsie se weidingskrisis blyk groter as elders te wees, aangesien honderdduisende hektaar weiveld vroeër tydens veldbrande in die slag gebly het. Dié dele se weiding kon weens die afgelope seisoen se gebrekkige reën nie na behore herstel nie.
Hulp
Van Vuuren sê daar is wel baie boere wat hulle mede-boere bystaan met voerskenkings of voer teen billike pryse. “Genadiglik is daar ouens wat help. Die boere sien om na mekaar.”
Volgens Van Vuuren het verskeie boere al hulle kuddes begin verklein, “maar jy kan tog nie jou kern kudde verkoop nie en pryse vir kalwers is tans swak. Baie boere moet maar net deurdruk.”