
Die faktore en kriteria wat gebruik moet word in die vasstelling van die unieke grondplafonne van elke distrik in die land, is bekend.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer.
Hierdie wetsontwerp, wat wil sien dat die kategorieë vir grondplafonne distriksgewys bepaal moet word, maak ook voorsiening vir ’n Grondkommissie wat ’n sentrale rol sal speel in die bepaling van grondplafonne. Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir die langtermyn huur van landbougrond deur buitelanders. Hoewel die grond wat buitelanders reeds besit, nie onteien sal word nie, sal hulle nie weer ná die instel van dié wetgewing landbougrond kan aankoop nie.
Die vasstelling van die grondplafonne per distrik sal gebaseer wees op sekere kriteria en faktore wat deur regulasies vasgestel sal word.
Dit sluit die volgende faktore in:
* Die vermoë van die grond, insluitend hoë, medium en unieke landbougrond, weiveld, saaigrond, en klimaatfaktore.
* Kwessies rakende die huidige produksie-uitsette, kommoditeit-spesifieke versperrings, plaasgrootte, lewensvatbaarheid van die plaas, ekonomie van skaal, agro-bedrywe op die plaas, die hoeveelheid plaaswerkers en hul afhanklikes.
* Die verskille in fisiese vermoë in terme van die soort grond, diepte en gehalte van die grond, weidingskapasiteit, beskikbaarheid van water en die gehalte daarvan, afstand van die markte, beskikbare infrastruktuur en enige ander relevante faktore.
* Die verhouding tussen hulpbronne, soos bewerkte grond en natuurlike weiding, droëland en besproeiingsgrond, die soort grond op die saailand en enige ander relevante faktore wat ’n invloed oor die bepaling van die ekonomiese grootte van die gebied mag hê.
Ander faktore sluit in die kapitaalvereistes van die verskillende bedrywighede, die meet van die verwagte inkomste vir huishoudings en agro-bedrywighede, die jaarlikse omset, die verhouding tussen die produkprys en die prysmarges en ander enige ander kwessie wat voorgeskryf word.
Grondkommissie moet help met vasstelling
Nadat die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ná konsultasie met die Grondkommissie die kategorieë vir grondplafonne in elke distrik vasgestel het, moet dit bekend gemaak word. Vóór die instel van die bepaalde grondplafon, sal dit eers vir kommentaar gepubliseer moet word en belanghebbendes sal 30 dae tyd kry om insette te lewer.
Ná die instel van die wetgewing sal elke eienaar wat private landbougrond besit, ’n deeglike verklaring van sy eienaarskap van grond moet maak. Die voorstel is dat hierdie verklaring binne 12 maande gemaak moet word. Rasklassifikasie wat in 1994 amptelik by die deur uitgegooi is, kom nou ook weer terug in hierdie wetgewing. Die eiendomsverklaring moet die eienaar se ras, geslag en nasionaliteit insluit, asook die grootte en die gebruik van die landbougrond. Regte teen en lisensies toegestaan vir die landbougrond en enige ander inligting, soos voorgeskryf, moet ook bekend gemaak word.
Geen verklaring oor ras vir buitelanders
Hoewel buitelanders wat grond besit ook die verklaring moet doen, hoef hulle nie hulle ras of geslag in te sluit nie.
Voorsiening is ook gemaak dat wanneer iemand landbougrond na aanvang van die wetgewing aankoop, sy eienaarstatus binne 90 dae van die aankoop bekend gemaak moet word. Die eienaar sal in hierdie geval ook verplig wees om sy ras, geslag en nasionaliteit bekend te maak.
Kommentaar oor die voorgestelde wetgewing kan tot 17 April aan RALHBill@drdlr.gov.za of sello.ramasala@drdlr.gov.za gestuur word.
*Lees die wetsontwerp hier.
* lees Agri SA kommentaar oor die wetsontwerp.