
’n Omstrede Suid-Afrikaanse sakeman en sy Oekraïnse vennoot is glo die nuwe eienaars van die Quion Rock-wynlandgoed naby Kaap Agulhas.
Mnre. Kenny Kunene en Denys Aloshyn het glo verlede Saterdag (28 Augustus 2012) by dié wynlandgoed opgedaag om ’n aanbod te maak. Die aanbod vir R13 miljoen is aanvaar.
Die plaas het luidens ’n berig in Rapport aan ’n beweerde belastingontduiker behoort. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het verlede jaar op Quion Rock se eiendomme, wat aan mnr. Dave King behoort het, by Agulhas en Simonsberg beslag gelê.
Die SAID probeer King se belastingskuld van R1,4 miljard delg deur die eiendomme te verkoop. Weens boetes en rente het dié skuld egter tot R2,5 miljard toegeneem.
Kunene het sy aankoop aan die koerant en later op die sosiale netwerk Twitter bevestig.
Nog ’n bod
’n Suid-Afrikaanse maatskappy het volgens die berig opdrag ontvang om die plaas namens ’n buitelandse maatskappy te koop. Dié buitelandse maatskappy is glo in Mauritius gesetel. Aloshyn en Kunene het die eiendom voor ’n veiling glo saam besoek en het op die veiling saam gebie.
Kunene en Aloshyn het na bewering ook opdrag ontvang om later die maand nog ’n Quion Rock-eiendom, ’n wynlandgoed van 194 ha naby Stellenbosch, te koop. Dié eiendom se waarde word op R80 miljoen geskat en dit word later die maand verkoop.
Bron: Rapport