
Rusland is een van die grootste produsente van stikstof en die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het ’n reusestyging in die prys van stikstof veroorsaak. Dit het gevolg nadat die prys van stikstof begin daal het.
Mnr. André Kirsten, voorsitter van Graan SA se inset-en-produksiewerkgroep, het op Graan SA se jaarlikse kongres gesê Graan SA het vroeg al die boodskap aan wintergraanprodusente deurgegee dat hulle behoorlik moet beplan en hul kunsmis vir planttyd vroeg moet koop, want kunsmismaatskappye se bestellings was reeds gemaak en pryse vir daardie kunsmis sou nie daal nie.
“Ons het begin lippe afgelek toe die stikstofprys met $200/t gedaal het, en toe skiet hulle die bom af. Ons het stilgesit wat kunsmis vir bobemesting aanbetref, en nou weet ek nie wat ons moet doen nie, nou is die risiko by ons nog groter. Dit gaan ’n probleem in die Wes-Kaap raak.”
Kirsten het gesê volgens sy berekeninge moet ’n Wes-Kaapse koringprodusent weens die toename in kunsmispryse vanjaar 600 kg/ha meer koring oes as verlede jaar om gelyk te speel of jy moet tevrede wees met 600 kg/ha minder se inkomste. “As jy in ’n marginale gebied is, moet jy vanjaar mooi dink oor wat jy gaan plant.”
Kirsten het gesê boere wat ’n opbrengs van 2 t/ha tot 3 t/ha behaal, moet vanjaar hul potlode baie mooi skerp maak oor wat die moeite werd is om te plant en wat nie. “Jou marges raak nou so klein. Jy plant met sekere veronderstellings en dan gaan die prys van stikstof en kunsmis dalk op. Dan moet jy later dalk 1 t/ha meer produseer. Dis die situasie waarin ons onsself nou bevind.”
Kirsten het gesê dit is slegs die impak van die kunsmisprys. Daar is ook ander kwessies soos hoër brandstofpryse en logistieke probleme by hawens.
Maak ’n plan
Mnr. Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia Fertilizer, het tydens ’n paneelbespreking gesê: “Ek kan nie vandag vir u sê daar gaan elke dag van vanjaar vir u kunsmis beskikbaar wees nie, maar Rusland is nie die begin en die einde nie. Daar is alternatiewe. Ons kan al die produkte van elders invoer.”
Hy sê boere in die Noordelike Halfrond berei hulle voor om somergrane te plant en hulle het ook die kunsmispryse dopgehou vir laer pryse. “Almal is laat. Nou het pryse omgedraai en die vraag is wat gaan gebeur. Vir die Wes-Kaap en die wintergraanstreek is dit ’n moeilike situasie. As jy vandag nie kunsmis in die Wes-Kaap het nie, gaan jy die plantseisoen misloop – dis die werklikheid.”
Mnr. Corné Louw, landbou-ekonoom van Graan SA, sê die bogenoemde situasie is net van toepassing sou kunsmismaatskappye nog nie planne gemaak het om betyds voorraad te bekom nie. Hy sê Graan SA is nie bewus van 'n krisis rondom kunsmistekorte wat in die Wes-Kaap sou bestaan nie.
Wat die volgende somergraanseisoen betref, het Strydom gesê dis baie belangrik dat ’n produsent betyds moet beplan. “Wat noodsaaklik is, is dat jy ’n plan het – hetsy om te sê ek gaan my posisioneer vir 60% van wat ek gaan plant en risiko neem op die res, of besluit jy gaan jou fosfaat en kalium of jou plantermengsel koop, en jou ammonimumnitraat los vir later, want jy kan dit met ureum vervang. Maar jy moet ’n plan hê.”
* Lees meer hieroor in Landbouweekblad se 17 Maart-uitgawe.