
Dié verbintenis is gister in Johannesburg bevestig met die bekendstelling van ’n indrukwekkende kunswerk, kort voor Wêreldomgewingsdag wat môre (5 Junie) gevier word.
Die kunswerk bestaan uit 2 000 koppies (altesaam 320 liter) verskillende soorte rooibostee wat saam ’n aardbol vorm as dit van bo besigtig word. Dit is 40 m² groot en het die agt lede van die ontwerpspan meer as 70 uur gekos om te skep. Dit is tot môre by die botaniese tuin Walter Sisulu in Roodeport te sien.
Mnr. Nicie Vorster, ’n direkteur
by die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, sê die bedryf hernu tans sy klem op
volhoubaarheid. “Ekostelsels wêreldwyd word ontwrig weens mense se
bedrywighede. Klimaatsverwarming, waterskaarsheid, uitermatige
weersomstandighede, die toename in aansteeklike siektes en die verlies van
biodiversiteit is alles die gevolge van menslike ingryping.
“Daar is só ’n verbintenis tussen rooibos en sy omgewing waar klimaat en weersomstandighede ’n regstreekse uitwerking op produksie het. Terwyl landboubedrywighede aangepas kan word, bied hoër temperature, watertekorte en uitermatige weersomstandighede probleme vir rooibosboere en die landbousektor as ’n geheel.”
Hy sê dit is belangrik dat die sektor moet besef dat alle landboupraktyke ’n rol in klimaatsverandering speel. ’n Gesamentlike poging deur besighede, ontwikkelingsorganisasies, beleidmakers en die rooibosbedryf is nodig om die gevolge daarvan te bestuur.
“Die veranderinge wat met verloop van tyd in die landbousektor plaasgevind het, is deel van sy poging om meer volhoubaar te word. Dit het reeds vrugte begin afwerp en sal aanhou om volgehoue, gunstige maatskaplike en omgewingsuitsette te lewer, terwyl dit die ekonomiese lewensvatbaarheid van die sektor versterk.”
Me. Gina Waldman, die kunstenaar wat die kunswerk geskep het, sê die doel van die kunswerk is om mense wat dit besigtig, te lok om nader daarna te kyk en die betekenis daarvan te ontsyfer. “Die kunswerk dien as ’n herinnering dat ons almal elke dag ’n rol moet speel in die beskerming en herstel van ons pragtige planeet.”