
Hoewel die onluste in Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng getoon het dat private veiligheidsmaatskappye en wetsgehoorsame burgers ’n belangrike rol speel om die staat se veiligheidstrukture by te staan, is dit nie ’n verskoning vir die polisie om sy verantwoordelikhede toenemend op die private sektor af te skuif nie.
Op ’n onlangse webinaar van Landbouweekblad oor lesse wat die landbouwaardeketting van KwaZulu-Natal tydens die onluste geleer het, het me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die provinsiale landbou-unie (Kwanalu), gesê dit is belangrik dat die private sektor die polisie bly verantwoordelik hou. Swakhede en gebreke ten opsigte van die doeltreffende uitvoering van die polisie se mandaat om Suid-Afrikaanse burgers teen wetteloosheid te beskerm, kan nie toegelaat word nie.
“Terwyl Kwanalu en die res van die wetsgehoorsame burgerlike samelewing besef het ons moet hande vat en nog baie meer doen weens die mislukkings tydens en sedert die onluste, neem dit nie die plig van die staatsveiligheid- en sekuriteitstrukture weg nie.”
La Marque het bygevoeg dit is uiters belangrik dat die private sektor, veral die landbou, deelneem aan die strukture van die nasionale landelike veiligheidstrategie om die polisie tot verantwoording te roep. As die private sektor op plaaslike vlak byeenkom om sy veiligheidskwessies te bespreek, moet plaaslike verteenwoordigers van die polisie ook teenwoordig wees. Hierdie betrokkenheid van die private sektor by en monitor van die polisie en sy optrede wat betref die toepassing van die regering se veiligheidstrategieë moet van grondvlak tot op ministeriële vlak strek.
“Ons moet begin om die dienste en hulpbronne wat vir almal nodig is, te eis om ons gemeenskappe te beskerm,” het La Marque gesê.
Me. Ruth Bezuidenhout, hoofbestuurder van die Safire Crop Protection Co-operative Limited, gesê private sekuriteitsondernemings en burgerlikes moet slegs ’n rugsteun vir die polisie wees, pleks daarvan om verantwoordelikhede byna heeltemal te moet oorneem. “Belastingbetalers se geld word gebruik om die hulpbronne te skep wat veronderstel is om beskerming aan die burgerlike samelewing te bied, maar dit is nie doeltreffend nie. Die polisie behoort die instelling te wees wat voldoende opgelei is en die nodige hulpbronne het.
“Dit behoort nie burgerlikes se verantwoordelikheid te word om die primêre beskermers van hulself en hul gemeenskappe te wees nie.”