Halewood Internasionaal se opgewondenheid oor die nie-bindende aanbod wat hulle vir die KWV gemaak het, gaan van korte duur wees.
Die KWV se direksie het besluit om die huidige aanbod te verwerp.
“Die direksie het die standpunt ingeneem in die lig van die feit dat Hosken Consolidated Investments (HCI) meer as 25% van die maatskappy se aandele opgeneem het en uitdruklik te kenne gegee het dat dit nie so ‘n samesmelting in hierdie stadium sal ondersteun nie,” lui ‘n mediaverklaring wat na Donderdag se direksievergadering uitgereik is.
Nuwe bestuur
Mnre. Marcel Golding, John Copelyn en André van der Veen van HCI is by die vergadering as direksielede aangewys. Hulle vervang mnre. Antonie Jacobs, Jannie Mouton en Thys du Toit.
Jacobs en Mouton het hul bedankings ingedien nadat Zeder Investments sy belegging in die KWV aan HCI verkoop het. Du Toit, KWV-voorsitter, het ook sy bedanking ingedien nadat Rootstock Capital ook sy aandeelhouding aan HCI verkoop het.
Golding sal vanaf 1 Mei die leisels by hom oorneem. Nog direksielede wat hul pligte neergelê het, is mnre. Abrie Botha (ook voorsitter van VinPro) en Phillip Retief (van Van Loveren).
Groot in die mark
Halewood Internasionaal is ‘n reuse-drankmaatskappy wat veral in die gereed-om-te-drink-mark presteer. Volgens hul besturende groepsdirekteur, mnr. Alfie Vaughan, het die maatskappy sowat 5 000 verspreidingspunte in Suid-Afrika.
“Daar is dus baie kliëntebasisse waar die KWV nie verteenwoordig is nie en ons kan hulle daar bekendstel,” luidens Vaughan. Volgens hom sal Halewood en die KWV voordeel trek uit ‘n suksesvolle.
Die KWV beskou egter Halewood se poging om “op grond van ‘n beweerde geleentheid gelyke toegang te kry tot mededingende maatskappy-inligting” as onvanpas. Die KWV se direksie het besluit om regsadvies in te win om te bepaal of daar appél teen die SRP-uitspraak aangeteken kan word.
11 Februarie 2011