
Só sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, wat by die unie se beraad oor ekonomiese volhoubaarheid in Pretoria oor moontlike scenario’s gepraat het vir ’n suksesvolle landbousektor in die toekoms.
Een van sy voorstelle is die vorming van sindikate, waar binneheinings tussen plase verwyder word om sodoende ’n megaboerdery tot stand te bring. Pleks daarvan dat boerderye wat aan mekaar grens, afsonderlik funksioneer, hetsy bees- , groente- , vark- of melkboerderye, kan ’n gesamentlike besigheidsentiteit of korporasie ’n beter alternatief bied.
“Dan boer ons nie op 200 ha of 600 ha nie, maar byvoorbeeld op ’n plaas van 8 000 ha, met ander woorde ’n megaboerdery. Finansiële instellings kyk anders na groter eenhede. As die melkboer byvoorbeeld swaar trek en hy is deel van die eenheid, kry hy binne die groter sindikasie-groepering nog steeds ’n kans. Hier is ’n geleentheid om boere te red.”
Hy sê deur meganisasie kan boere saamstaan met optimum toerusting, en sodoende arbeid afskaal. “As nege of tien boere op een plaas boer, is daar meer bestuurskundigheid en aankoopbedinging, wat almal in ’n beter posisie plaas. Veiligheid is ’n logiese ding wat hieruit gaan voortspruit, en die megaboerdery kan brûe met verbruikers – die belangrikste skakel in die waardeketting – bou.”
Mnr Gawie van Rensburg, voorsitter van TLU SA se ekonomiese volhoubaarheidskomitee, sê veiligheid, grondbesit, onvriendelike wetgewing en veediefstalle is van die redes waarom kommersiële boere die afgelope jare onder groot finansiële druk geplaas is. Dit het veroorsaak dat die boere se binnevet om krisisse te oorbrug, grootliks verdwyn het.
Hy sê die landbouwaardeketting se voortbestaan is grootliks afhanklik van boerderye se eie winsgewendheid en voortbestaan. “Ons moet ons eie welvaart skep. Die praktyk het reeds vir ons uitgewys dat die regering om welke redes ook al nie betyds tafel toe kom om die landbou-omgewing te stabiliseer nie. Ons word nie gesubsidieer soos baie buitelandse produsente in geval van ramptoestande of oorskotte van produkte nie.”
Risiko
TLU SA het sedert Oktober verlede jaar met belanghebbendes in die waardeketting gesprek gevoer om hulle in te lig oor die druk waaronder boere verkeer en dat stappe gedoen moet word om te voorkom dat primêre landbouers verlore gaan. “Dit is reeds besig om te gebeur. Insetverskaffers en die verwerkers van voedsel is ook onder groot druk. Risiko behoort nie deur die boer alleen gedra te word nie. Die verspreiding van risiko’s moet uitgebrei word na die insetverskaffers, finansiers en verwerkers van die landbouprodukte. Winsgewendheid maak dat die produsent soos enige ander onderneming die volgende jaar in bedryf sal wees.”
Van Rensburg sê die bydrae wat die produsent lewer, is meer as om net ’n produk te lewer. Dit is ook om die platteland te stabiliseer ten opsigte van werkverskaffing, asook die maatskaplik-ekonomiese volhoubaarheid. “Kyk hoeveel werkers is in diens van die produsente. Daar gaan ongeveer R2 miljard aan salarisse en lone wat deur boerderye per maand uitbetaal word.”
Hy sê wanneer daar binne dié konteks na die rol van die verbruiker gekyk word, is dit nodig dat daar beter brûe gebou word tussen hulle en die produsente, die boere, op plase. “Daar is al aksies wat in dié verband plaasvind. ’n Goeie voorbeeld is TLU SA se Boeremark in Pretoria. Die produsent bemark direk aan die verbruiker in ’n landbou-omgewing. Verbruikers kommunikeer met die boere en dit is belangrik.”
Wie maak die wins?
Prof. Koos de la Rey, ook ’n lid van die ekonomiese volhoubaarheidskomitee, sê dis die handelaar en nie die boer nie wat die wins maak. “Ons as boere sal moet kyk dat ons, as die verskaffer, self by die eindverbruiker uitkom, dan kan jy wins maak.”
Hy sê boere verkoop melk teen sowat R5 per liter. Die verbruiker koop dit teen R20 of meer by die supermark. Die een wat die wins gemaak het, is die een wat melk in die bottel gesit en ’n etiket opgeplak het.
Hy sê skuldvlakke van boerderye styg aanhoudend. Binne vier jaar het dit met gemiddeld 13% gestyg. “As jy na die skuldvlakke kyk en dit in verhouding bring met winste wat boere maak, dan kom jy agter iewers is ’n fout.” Hy sê oor ’n tydperk van vyf jaar gemeet, is die winssyfer op boerderye se bates in hierdie stadium 1,7%.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.