Besproeiingsboere langs die Vaalrivier in die Vrystaat loop al hoe meer deur onder kabeldiefstal en selfs al slaag hulle daarin om die diewe op heter daad te betrap, word baie van hulle later deur die howe vrygelaat weens leemtes in die polisie se ondersoeke.
Mnr. David Britz, voorsitter van Vierfontein se boerevereniging, wat ook betrokke is by die plaaslike reaksiemag, sê verlede jaar was daar in hul gebied minstens drie gevalle waar tien diewe aangekeer is deur boere wat self kameras dophou en die omgewing patrolleer. “Elke keer is koper in hul besit gevind en elke keer is die verdagtes, wat reeds alles erken het, vrygelaat weens probleme met die Vierfontein-distrikspolisiekantoor se ondersoeke na die voorvalle.
“Die boere van die omgewing plaas hul lewe en hul gesinne se veiligheid op die spel om die diewe te vang en ’n einde te bring aan koperdiefstal, maar niks word aan die sake gedoen nie.”