Mnr. Alan Stratford van Stratford Farms naby Mooirivier sê daar het op Vrydagaand 20 Januarie ’n probleem met Eskom se kragtoevoer ontstaan op een van sy vier melkplase waar hy 850 koeie melk. Hy melk altesame 3 500 koeie.
Hy het die fout eers Saterdagoggend agtergekom. Die kragopwekker by die melkstal het nie Vrydagaand aangeskakel nie, omdat daar steeds ’n lae kragtoevoer was en die opwekker ingestel is om aan te skakel wanneer daar géén krag is nie.
“Die enigste manier hoe ’n mens deesdae ’n Eskom-fout kan aanmeld, is deur Eskom se gerekenariseerde toepassing Alfred. As dit nie ’n noodgeval is wat mense se lewens bedreig, of iets soos ’n brand behels nie, herstel Eskom dit net in normale werkure van Maandae tot Vrydae.”
Omdat die fout dit onmoontlik gemaak het vir hom om te melk, het hy dit as ’n noodgeval aangemeld.
’n Eskom-tegnikus het laat Saterdagmiddag die fout kom herstel, maar nadat hy die krag aangeskakel het, het ’n kragstuwing waarskynlik ’n klomp toerusting laat uitbrand, soos die kontaktors wat die verkoeling in die tenks beheer.
Die tenk se beheerpaneel het egter steeds gewys die melk is koel en daarom is die koeie Sondagoggend gemelk. Stratford het eers daarna agtergekom die melk is vuurwarm.
“Al die kontaktors en ook verkoelingswaaiers het uitgebrand. Die toerusting is nie ontwerp om so aan- en afgeskakel te word nie. Tegnici het die hele Sondag gewerk sodat ons Sondagmiddag kon melk.
“Ek moes meer as 11 000 liter melk wat warm geword het, uit die tenk tap.” Teen die huidige gemiddelde plaashekprys is dié verlies meer as R70 000.
Die melkkoper het boonop later agtergekom die melk wat hulle by Stratford opgelaai het, is suur, nadat dit die pasteuriseerder verstop het. Hy moes daarom van 17 000 liter melk ontslae raak.
Dit is onwettig om ongepasteuriseerde melk vir mense te gee. Dié suur melk is ook nie dieselfde as amasi nie.
Beurtkrag ’n nagmerrie
Stratford sê dié groot terugslag is maar een van talle weens beurtkrag. “Ek slaap nie, ek hardloop net rond om goed reg te maak wat uitgebrand is. Terwyl ek nou met jou praat, is ek besig om self te probeer om ’n spilpunt reg te maak, want die tegnici is te besig om uit te kom omdat soveel spilpunte breek.
“Ek het ook al twee pompe en vorige spilpunte gehad wat gebreek het.”
Dit kom terwyl melkboere reeds lank onder groot druk is weens aansienlike stygings in insetkoste. “Ons kunsmiskoste het met 300% gestyg. Die kunsmis vir ons mielies het verlede jaar R6 500/ton gekos, vanjaar kos dit R22 000/ton. Stikstof het R4 500/ton gekos, nou kos dit R15 000/ton. Mielies het verlede jaar R3 500/ton gekos, nou kos dit R5 000/ton. Soja se pryse het deur die dak geskiet.
“Ons kry nie dié koste terug deur ons prys nie. ’n Melkkoper het my onlangs weer gekontak en gesê hy het melk nodig, maar ek het hom reeds ses maande gelede gesê ek het R9,50/liter nodig om my somme te laat klop.
“Ons werk hard, maar ek weet nie hoe lank ons so kan aangaan nie. In ’n gewone maand is my dieselrekening R44 000 op die plaas waar ek woon. In Desember, toe ons nie eens kon ploeg nie omdat dit te nat was, was die rekening R256 000 weens beurtkrag. Op ’n ander plaas was die dieselrekening R300 000 hoër as gewoonlik.”
Sonkrag nie ’n oplossing nie
Stratford sê op ’n gemiddelde melkplaas is daar gewoonlik vyf kragvoorsieningspunte: een by die melkstal, dalk drie vir besproeiing en een wat water pomp. “Almal sê ‘sit sonkrag in’, maar waar moet ek dit opsit? Moet ek vyf sonkragstelsels oprig?
“Die ander probleem is dat ons buite sonskyn-ure werk. Ons begin om 04:00 en ons melk weer as dit donker word. Sonkrag is sterk vanaf 09:00 tot 15:00. Dit beteken ons moet batterye gebruik.
“Vir ’n gemiddelde melkplaas sal ’n sonkragstelsel by die melkstal sowat R7 miljoen kos. Dan kan jy nog net die koeie melk. Sou jy sonkragstelsels in die veld by jou pompe en besproeiing installeer, is die kans goed dat dit gesteel gaan word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.