Volgens die sameroepers was die samekoms ’n opbouende gebaar. Die landbougemeenskap wil saam met Eskom en die regering dringend ’n werkbare oplossing vir beurtkrag vind in ’n poging om verskillende sektore van die ekonomie te red.
Boere en plaaswerkers het vroegoggend byeengekom en die slagspreuk “Krag is kos, en kos is krag” op hul landbouvoertuie aangebring. Vandaar het hulle uit verskillende rigtings na hul dorpe gery. Op Douglas het die boere en mense van alle vlakke en sektore by ’n groot skuur byeengekom.
Boere vrees dat gewasse teen Maandag heeltemal sal vrek omdat daar nie genoeg ure is om dit in hitsige temperature te besproei nie en grondprofiele droog raak.
’n Driftige mnr. Nicol Jansen, leierboer van die Noord-Kaap, het gesê die stropers, spuite en trekkers met satellietnavigasie wat aan die optog deelgeneem het, bewys hoe boere die jongste tegnologie en bestuursvaardighede gebruik om optimaal te produseer om winste te maak. “Ons kan met tegnologie elke mieliepit op sy plek plant en elke druppel onkruiddoder op die regte plek toedien en niks vermors nie.
“Hoe op dees aarde is dit moontlik dat Eskom nie die tegnologie het – of dit nie reg gebruik nie – of bestuurvaardighede het om genoeg krag te voorsien om die ekonomie aan die gang te hou nie? Hoe kan vragmotors met miljoene rande se brandstof vir Eskom by een hek inry en by ’n ander een uit sonder om die brandstof af te lewer? Dit kom eers maande later op die lappe. Hoe kan hulle nie korrupsie, nepotisme en vrugtelose uitgawes stopsit nie? Boere kon dissipline toepas om kos vir die land en uitvoermark te produseer, Eskom skynbaar nie.”
Die beurtkragskedule is nie genoeg om die gewasse van verdroging te red nie. Boonop raak die grond al hoe droër. “Al wat ons onmiddellik kan help, is baie reën om die gewasse te red en grond af te koel en vog neer te plaas.
“Die bewusmakingsveldtog is om die regering te versoek om met planne vorendag te kom. Ons wil saam planne maak. Gee die landbousektor nou meer krag om die oeste te red, en in die winter sal ons terugstaan dat ander sektore meer krag gebruik. Die skedule moet herbekyk word om in ons behoeftes te voorsien sodat ons kos aan die land kan verskaf.
‘Red wat te redde is’
“Ons kan nou vir ses uur geen water gee nie. Indien alles reg loop en daar is geen onderbrekings nie, kan ons 8 mm water neersit, wat 40 mm per week is. Die behoefte is tot 60 mm per week omdat die grondprofiel nie nat genoeg is nie. As ons nie nou baie reën kry nie, gaan ons tot 80 mm per week benodig. Ons moet red wat te redde is.”
Sowat 17% van Suid-Afrika se mielies is onder besproeiing, en dit is onder druk weens te min besproeiing. Sowat 90% van die groente en vrugte is onder besproeiing.
“Die groter risiko is volhoubaarheid. Ons insette beloop R6,1 miljard. Die vraag is of finansiële instellings toegang tot die geld het om boerderye te herfinansier. Wat gaan die impak wees as die batewaarde van die landbou se kollateraal verlore is?”
In die Noord-Kaap lewer die landbou die tweede grootste bydrae tot BBP en is dit die grootste werkverskaffer. “Waar gaan ons werk kry as besproeiingsboere bankrot speel? Ons kan nie toelaat dat elektrisiteit ons basiese reg om ’n bestaan te maak kniehalter nie.
“Twee presidente het jare gelede al gesê binne 18 maande is beurtkrag iets van die verlede, maar dit het nie gebeur nie. Eskom is nie reggeruk nie. Op watter stadium gaan planne deurgevoer word? Ons kan nie so met leë beloftes aangaan nie.
“Ons het die dissipline om elke dag op te staan en hard onder die son te werk en ons lewensgehalte in te boet. Staatsinstellings kan skynbaar nie doeltreffende planne deur te voer nie. Verkwisting en vermorsing moet end kry. Ons as boere en werkers is sielsmoeg.
“Ons pleit by ander sektore dat ons saamwerk om die min beskikbare elektrisiteit te verdeel om die impak te minimaliseer. Ons moet saamwerk en vir Eskom ’n plan gee om die min krag per maand per sektor te beplan. As ons meer krag nou tot April kry, sal ons in die winter met minder krag deurkom. Die skedules moet herbesin word.”
Hy het gesê dis die regering se verantwoordelikheid om infrastruktuur en ’n bemagtigende omgewing vir die vrye mark te skep.
Taxivereniging steun landbou
Mnr. Robert Waterman, voorsitter van Santago in Douglas, het gesê die taxivereniging ondersteun die boere. “Sonder boere met spilpunte wat loop, het ons nie passasiers om te vervoer nie. Ons is bekommerd dat kospryse reeds hoog is, en nog gaan styg.”
Me. Julia Josi, ’n kleinboer en sakevrou is, het pres. Cyril Ramaphosa en Eskom gevra om dringend Douglas toe te kom. “Ons mense is arm, maar weens beurtkrag kon ons nie eens die hoender eet nie, want ons kon dit nie koud hou nie. Daar kom niks van die regering se beloftes om ons by te staan nie. Ons kan nie kragopwekkers bekostig nie. As Eskom se mense nie skoolgegaan het nie en nie weet wat om te doen nie, moet hulle bedank. As die president nie weet wat om te doen nie, moet hy opsystaan. Ek wat aartappelskyfies in die township verkoop, sal dit nie meer kan doen as dit onbekostigbaar is nie. Dink net hoe honger gaan ons mense dan wees.”
Mnr. Henry du Toit, ’n sakeman wat in Douglas gebore is en ook afhanklik van die landbougemeenskap is, het die optog gereël. Hy sê sowat 80 trekkers, 20 lorries en meer as 60 voertuie was betrokke. Sowat 100 Douglas-boere, kleinboere en opkomende boere en die landboumaatskappye het saamgestaan. Alles het ordelik verloop, en hulle is deur die polisie en die verkeersdepartement begelei.
“Ons bly in woestyn. Ons riviere is vol, maar ons gewasse is besig om te vrek. Ons is almal afhanklik van die landbou. By Prieska, Hopetown en Vaalharts het veeboere besproeiingsboere ondersteun. In die droogtetyd het ons voer gemaak vir veeboere, nou ondersteun hulle ons weer. Dit is die eerste keer in Douglas se geskiedenis dat boere so saamstaan, dit toon hoe dringend ons nood is. Almal van winkeleienaars tot taxi-mense voel die nood.”
Intussen het Eskom vanmiddag aangekondig dat vlak 4-beurtkrag vanaand en môreaand van 16:00 tot die volgende oggend 05:00 voortduur. Beurtkrag sal môre (21 Januarie) van 05:00 tot 14:00 tot vlak 3 verlaag word waarna dit Sondagoggend (22 Januarie) tot vlak 2 aangepas sal word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.