Landbouleiers het daarom vandeesweek week met mnr. Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, vergader om die sektor se afhanklikheid van voldoende kragvoorsiening te bespreek.
“Die landbousektor is nou desperaat vir krag om gewasse te besproei, veral met die voortdurende hittegolf-omstandighede wat reeds in sommige dele van Suid-Afrika aanplantings vernietig,” luidens die gesamentlik verklaring deur mnre. Jaco Minnaar, president van Agri SA, Nicol Jansen, ondervoorsitter van Agri SA, Kulani Siweya, hoofekonoom van Agri SA, Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, en dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, ná die vergadering.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê in Suid-Afrika word meer as 210 000 ha mielies onder besproeiing verbou. Die opbrengs van dié mielies is jaarliks van 10 t/ha tot 12 t/ha, wat sowat 2 miljoen ton mielies tot die nasionale oes bydra.
Volgens 2022 se statistieke is 218 300 ha mielies onder besproeiing aangeplant, 14 570 ha sonneblom en 69 400 ha sojabone. Dit was onderskeidelik 8%, 2% en 8% van die nasionale aanplantings van dié drie gewasse.
“Ons het nog altyd gesê besproeiingsmielies is belangrik vir Suid-Afrika,” sê Louw. “Dit dien as ’n stutfaktor vir die nasionale oes, en in droogtetoestande (vir droëlandmielies) is dié mielies die deel van die oes wat verseker dat Suid-Afrika genoeg mielies vir plaaslike verbruik het. En nou, weens die situasie wat beurtkrag skep, is daardie stut in groot gevaar.”
Louw sê van die mielies het reeds soveel droogteskade dat dit nie kan herstel nie. “Van die boere sê dat Maandag D-dag is, die dag waarop hulle moet besluit om óf groot onkoste aan te gaan om kragopwekkers aan te skaf om hul wenakkers te besproei óf hulle gaan die mielies moet doodspuit en in die grond inwerk.”
Sommige boere sal selfs moontlik drastiese besluite oor hul voortbestaan op die plaas moet neem.
Verlore tonne weens dié situasie sal ’n impak hê op Suid-Afrika se totale mielie-oes, wat ook vir veevoer en dus vir die produksie van rooivleis- en hoenderprodukte gevolge gaan inhou.
Beskerm voedselsekerheid
Agri SA het tydens die gesprek met Oberholzer die noodsaaklikheid van voedselsekerheid benadruk. “Daar is ’n behoefte aan ’n plan wat op kort termyn die vernietigende impak van beurtkrag op die landbousektor en voedselproduksie mitigeer,” volgens die verklaring.
“Besproeiing is nou noodsaaklik om te verseker Suid-Afrika het genoeg vrugte, groente, graan, hoender, vleis en ander landbouprodukte.
“Die landbou-waardeketting het ook krag nodig om kouekettings aan die gang te hou, onder meer vir die slag van lewende hawe, die verwerking van landbouprodukte en alle ander landbou-aktiwiteite wat afhanklik is van elektrisiteit.”
Oberholzer het aan die landbouleiers bevestig beurtkrag sal vir ’n onbekende tydperk voortduur en vlak 4-beurtkrag gaan moontlik meer gereeld ingestel word weens onvoorsiene probleme by verskeie kragsentrales, tesame met beplande instandhoudingswerk.
Agri SA stel die volgende prioriteite voor:
- ’n Kompromie met beurtkragskedules. Boere in sekere gebiede is bereid om hoër vlakke van beurtkrag gedurende Mei, Junie en Julie te verduur – op voorwaarde dat daar voldoende elektrisiteit beskikbaar sal wees in die kritieke besproeiingsmaande van Januarie tot April.
- ’n Alternatiewe tariefstruktuur vir die huidige Ruraflex-trarief wat sal verseker boere word nie onregverdig belas met hoër elektrisiteitstariewe wanneer besproeiing in spitstye moet plaasvind nie.
- Meer hernubare elektrisiteitsopwekkingsstelsels wat nog nie aan die kragnetwerk gekoppel is nie, moet toegelaat word om surplus krag terug in Eskom se kragnetwerk te sit. Dit kan gepaard gaan met bepalinge om terugkooptariewe te finaliseer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.