Oekraïense boere in die oostelike dele van die land wat deur Russiese militêre magte beset word, word mishandel deur die Russe en Oekraïeners wat die Russe goedgesind is.
Dís luidens ’n verklaring wat gesamentlik deur die Oekraïense landbouraad (UAC) en die geldinsamelings-en-bewusmakingsorganisasie Save Ukrainian Agriculture (SAVE UA) uitgereik is. Vandag (24 Februarie 2023) ’n jaar gelede het Russiese magte op bevel van pres. Wladimir Poetin Oekraïne ingeval.
Hoewel Oekraïense magte sterk weerstand bied en Russiese magte dikwels uit besette gebiede teruggedryf het, is groot dele langs Oekraïne se grens met Rusland sedert die inval in die vyand se hande.