
Dit volg op drie afsonderlike, vernietigende brande rondom Kuruman, Daniëlskuil en Lohatlha van 5 tot 10 Augustus. Tussen Kuruman, Blikfontein en Reivilo is meer as 102 000 ha vernietig. Ván die brande het weer op 10 Augustus opgevlam. Ingeligtes meen die brande het weens brandstigting en/of nalatigheid ontstaan.
Mnr. Willem Symington, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die nasionale regering moet vliegtuie waarmee brandbestryding vanuit die lug gekoördineer word en helikopters wat water gooi, verskaf en skakeling tussen brandslaanspanne van distriksmunisipaliteite verbeter. Tans het die weermag twee helikopters, maar hulle is elders in Suid-Afrika ontplooi.
“Die brande is te massief vir brandslaners op die grond om dit vinnig onder beheer te bring. Boonop werk die rampbestuursentrums van verskillende distriksmunisipaliteite nie saam nie. Terwyl Agri Noord-Kaap op die vakansiedag van 9 Augustus aan diens was, was sekere amptenare nie. Dit is ongehoord, want noodsituasies en rampe gebeur nie net tydens kantoorure nie.”
Terreurdaad
Symington meen brandstigting is ’n terreurdaad omdat dit ’n aanval op die ekonomie is. “Dit moet oor dieselfde kam geskeer word as die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die regering moet ondersoek instel en beter veldtogte voer waarin burgers van die gevare van brandstigting en brande ingelig word.”
Mnr. Willie Aucamp, DA-LP, sê hy is uiters bekommerd oor voedselsekerheid in Suid-Afrika, gegewe die impak van die vernietigende droogte elders in die Noord-Kaap. Die regering moet ophou om hom blind te hou vir ’n moontlik katastrofiese voedseltekort.
’n Emosionele mnr. Jan Joubert, voorsitter van Agri Kuruman, sê uitgeputte brandslaners en vrywilligers is deur weldoeners bygestaan.
Hy het Dinsdag oor Kuruman na Reivilo en Blikfontein gevlieg. Volgens dié opname is sowat 102 000 ha vernietig. Hy meen meer as 50 plase het heeltemal of gedeeltelik afgebrand.
Die drie afsonderlike brande wat meesal vermoedelik deur brandstigting veroorsaak is, het weiding rondom Daniëlskuil, tussen Kuruman, Reivilo en Blikfontein, en rondom Lohatlha vernietig.
Joubert sê die eerste brand het verlede Donderdag op die R31-roete tussen Kuruman en Daniëlskuil uitgebreek. “Die oorsaak was brandstigting. Daar is baie voorvalle van brandstigting op die roete. Dit kan brandende stompies wees wat by motorvensters uitgegooi word, vure wat langs die pad gemaak word, of kwaadwillige brandstigting. Die brand is teen Vrydag geblus.”
Die ander brand het Sondagoggend in Kuruman naby die gholfbaan begin en na Reivilo en Blikfontein versprei. “Die sterk noordoostewind het sake vererger, asook die ruig plantegroei danksy goeie somerreën. Die brand het op sy weste- en oostekant ook begin brand, wat die brand verbreed het. Daar is ’n groot verlies aan weiding en infrastruktuur soos pale, heinings en pype.”
Die brand wat Sondagmiddag in Lohatlha uitgebreek het, het vanuit die weermag se gebied gekom waar daar ook gemeenskapslede woon. Die oorsaak hiervan is onbekend. “Met dié dat twee brande Sondag gewoed het, is die brandblusserspanne in twee verdeel. Manne wat reeds moeg en honger was, moes verder teen die vlamme veg.
“Sakelui, mense van ander plase en dorpe het kos en water gestuur. ’n Sekuriteitsmaatskappy het ook sy voertuie met toerusting en personeel gestuur om te help en die verspreiding van kos en water te koördineer.
“Ons sal nou moet vasstel hoeveel kuddes oorleef het en of daar weiding elders beskikbaar is. Agri Noord-Kaap sal ons bystaan om voer hierheen te bring.”