
Die aartappelskyfievervaardiger Simba se aanleg in Prospecton, Durban, is al langer as ’n week gesluit ná die verwoestende vloedramp wat KwaZulu-Natal op 11 en 12 April getref het.
Die aartappels wat vir aanleg bestem was, word vir eers na fabrieke elders in Suid-Afrika geneem.
Mnr. Riaan Heyl, hoof van Suid-Afrikaanse voedsel-en-koeldrankprodukte van PepsiCo in Afrika suid van die Sahara, het by navraag gesê die aanleg was op Vrydag 22 April steeds gesluit omdat munisipale dienste nog nie herstel was nie. Prospecton is ’n nywerheidsgebied suid van Durban, naby die Durban-lughawe.
“Ons plaaslike span is steeds besig met opruiming en assesseer in die proses skade aan toerusting. Tot dusver is nog geen wesenlike skade aan infrastruktuur uitgewys nie.”
Heyl het gesê aartappels wat in dié tyd per verskaffingskontrak aan die aanleg gelewer sou word, word vertraag of herlei na ander aartappelskyfie-vervaardigingsaanlegte in Isando in Gauteng en Parow in die Wes-Kaap.
“Ons hoop dat water- en kragvoorsiening binne die volgende week herstel sal word. Ons het ons rugsteun-oplossings aan die gang gekry sodat ons vordering kan maak met opruiming en verwante bedrywighede.”