
Die Land Bank beplan om 'n alliansie te sluit vir die finansiering van infrastruktuur besproeiing vir opkomende boere op 30 000 ha in Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.
Mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof, sê die bank wil opkomende boere finansieel én met tegniese ondersteuning help om kommersiële boere te word, en ook 'n bydrae lewer dat vroue, jong mense, plaaswerkers en landelike gemeenskappe toenemend betekenisvolle deelnemers in die sektor kan wees.
Die bank se fokus op dié drie provinsies sluit aan by die grondoudit van mnr. Johann Bornman van Agri Devevelopment Solutions dat meer as 60% van die waarde van landbougrond in Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, reeds in swart boere se besit is.
Bemagtiging van plaaswerkersVolgens Nchocho wil die bank ook 'n proaktiewe program vir die bemagtiging van plaaswerkers ontwikkel, en produkte ontwikkel wat landbou-ontwikkeling in kommunale en tradisionele gebiede sal ondersteun.
Nchocho het gesê die bank steun grondhervormingsprojekte wat gestruktureerd is en op 'n kommersieel volhoubare grondslag in werking gestel word.
Voorbeelde van suksesvolle projekte waar die bank betrokke is, is dié van die Sernick-groep, Mouton Sitrus en die Ambiance-tafeldruiweplaas en pakhuis.
Altesaam 59 nuwe boereBy eersgenoemde het die bank via die groep krediet van R25 miljoen aan 59 opkomende boere verleen wat 3 500 speenkalwers bestuur en in 'n drie jaar lange program steun van die groep kry.
Die Mouton-model behels die finansiering van 'n aandeleskema wat uiteindelik daartoe sal lei dat Masimong Holdings, 'n SEB-vennoot, saam met die bank 'n belang van 35,5% in Mouton Investments sal besit.
Deur die Ambiance-projek word 'n opkomende swart boer gesteun in die ontwikkeling van 'n tafeldruifplaas van 80 ha in die Hexriviervallei en die bou van 'n pakhuis en kouebergingsgerief van 5000 vk m.
Altesame 700 werkgeleenthede word deur laasgenoemde geskep, waarvan 140 heeltyds en 560 seisoenaal is.
* Lees die grafiek van die Land Bank se finansiering van die totale landbou hieronder. (Die syfers is Rand miljard.)