
Bewerings dat twee oudsoldate wat voorheen verbonde was aan 32 Bataljon by ’n Noord-Kaapse skaapboer se plaashuis ingebreek het omdat dié boer geld aan die Land Bank skuld, is onwaar.
Dié bewerings, wat aanvanklik op sosiale media gemaak en later in ’n mediaverklaring van die DA herhaal is, is volgens mnr. Joe Scholtz, landelike veiligheidshoof van Agri Noord-Kaap, die gevolg van “baie verkeerde inligting en misverstand”.
Scholtz het aan Landbouweekblad verduidelik ’n boer op ’n plaas tussen Williston en Sutherland is tans in ’n regsgeding met sy skuldeisers betrokke. Dié skuldeisers het wagte na die plaas gestuur om te verseker dat die eiendom nie van die hand gesit word terwyl die regsgeding nog aan die gang is nie.
Die twee sekuriteitsbeamptes wat gestuur is om oor die plaas wag te hou, het toe na die verkeerde plaas gegaan. Scholtz bevestig die twee het wel by ’n plaashuis ingebreek – hulle was onder die indruk die huis is deel van die plaas waarvan hulle die bates moes beskerm.
‘Van waarheid ontbloot’
“Ek het baie met die polisie gepraat en dit blyk dat hulle bloot ’n verkeerde plaas gaan oppas het. Dié ding is meer opgeblaas as wat dit in werklikheid is. Agri Noord-Kaap en die Land Bank sal ’n gesamentlike verklaring uitreik rondom dié aangeleentheid,” sê Scholtz.
“Nou is dié saak gemaak asof die Land Bank mense kry om die grond te beset. Dis totaal van die waarheid ontbloot,” sê Scholtz.
Me. Rebecca Phalatse, woordvoerder van die Land Bank, was tot vroeër vandag (Vrydag 17 Junie) onbewus van dié aantygings.
“Ons ondersoek tans om meer uit te vind sodat ons beter kan verstaan wat gebeur het. Sodra ons hierdie inligting het, behoort ons ’n verklaring oor die saak uit te reik,” sê sy.
Polisie ontbied
Mnr. Willie Aucamp, DA-kiesafdelingshoof in die Kalahari-streek, sê in ’n verklaring die boer is glo deur die soldate meegedeel is dat sy grond nou aan hulle behoort omdat hy na bewering versuim het om daarvoor te betaal. Die boer het die plaaslike polisie ontbied wat die twee vermeende oudsoldate in hegtenis geneem het.
“Daar word geglo dat dit nie ’n geïsoleerde voorval is nie. Daar word beweer dat ’n prokureur wat vir die bankrot Land Bank werk, besig is om die proses te orkestreer waardeur eiendomme beset en dan deur die Land Bank opgeveil word teen pryse wat ver onder die markwaarde is. Die DA is woedend oor die bewerings van sulke veragtelike intimidasietaktiek wat deur die Suid-Afrikaanse regering toegepas word,” sê Aucamp in die verklaring.
Aucamp voeg by dat die Suid-Afrikaanse regering én die Land Bank eerder alles in sy vermoë moet doen om sukkelende boere by te staan om hul boerderybedrywighede te kan volhou pleks daarvan om “betrokke te wees by die gebruik van vuil strategieë om boere en hul gesinne van hul grond te verjaag. Dit bedreig voedselsekerheid en blaas die vlamme van potensiële burgeroorlog aan.”