
'n Internasionale bankgroep en 'n afdeling van die Wêreldbank het hul vertroue in die langtermyn-toekoms van Suid-Afrika en sy landbousektor met 'n langtermynlening aan die Land Bank bevestig.
Standard Chartered en die Land Bank het die leningsooreenkoms op 12 Junie geteken, enkele dae nadat die kredietgraderingsagentskap Moody’s Suid-Afrika se beleggingstatus afgegradeer het.
Volgens die ooreenkoms leen Standard Chartered 300 miljoen Amerikaanse dollar (R3,84 miljard teen 'n wisselkoers van R12,80) aan die Land Bank, wat oor 'n tydperk van tien jaar terugbetaalbaar is.
Gewaarborgde lening
Die lening word gewaarborg deur die Multilateral Investment Guarantee Agency (Miga), die Wêreldbank se afdeling vir politieke risikoversekering en kredietbevordering.
Mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof van die Land Bank, het met die ondertekening gesê hy is baie dankbaar dat die Land Bank, te midde van die onseker politieke en ekonomiese tye waardeur Suid-Afrika gaan, steeds vertroue by beleggers en finansieringsverskaffers kon wek.
“Ons neem dit nie ligtelik op nie. Ons glo dit is 'n belangrike verklaring van vertroue, nie net in ons leierskap nie, maar in wese ook in die strategie en prestasie van die organisasie.”
Moet landbou laat groei
Die Land Bank het volgens Nchocho 'n moeilike taak omdat hy die landbousektor moet laat groei, maar tegelykertyd ook groter inklusiwiteit moet bevorder.
Hiervoor het hy toegang tot die regte soort finansiering nodig - ontwikkelingsfinansiering het kapitaal nodig wat oor 'n lang termyn afbetaal kan word.
Nchocho se boodskap aan die bank se internasionale vennote was: “Wees gerus, jul geld is in die hande van mense met 'n onwrikbare verbintenis tot gesonde banksake en ontwikkelingsfinansiering.”
Vertroue in die Land Bank-span
Mnr. Saif Malik, Standard Chartered se Afrika-hoof, het sy vertroue in Nchocho en sy span uitgespreek. Met die lening kry die Land Bank “asemhalingsruimte” en beweeg hy van korttermynlenings, wat beperkend kan wees, na langtermynfinansiering teen 'n mededingende prys.
Malik het ook die belangrikheid van die landbousektor benadruk en gesê dit is 'n reuse-aandrywer van die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Hy het aan Landbouweekblad gesê as belegger kyk Standard Chartered op lang termyn na Suid-Afrika. “Ja, daar is 'n tegniese resessie in Suid-Afrika, 'n mens kan dit nie wegsteek nie, dit is wat dit is.
“Maar daar is beslis bedrywe in Suid-Afrika wat steeds redelik goed doen. Die landbou is een van hulle. Daar was goeie reënval en 'n goeie oes word verwag.”
Grootste transaksie
Mnr. Bennie van Rooy, finansiële hoof van die Land Bank, het gesê die lening, wat die grootste enkele transaksie is wat die bank tot nou gesluit het, is danksy Miga se betrokkenheid relatief bekostigbaar.
Die bedrag sal onmiddellik na rand oorgeskakel word en die rente sal randgebaseer wees, wat dit meer voorspelbaar maak.
Die Land Bank sal sowat 30% van die geld gebruik om sy balansstaat – wat deur korttermynfinansiering verswak word – te versterk, sowat 35% vir korporatiewe kliënte, en 25% vir ontwikkelingsfinansiering. Die lening is deel van die bank se pogings om meer langtermynfinansiering te kry.