
Me. Olga Constantatos, krediethoof van Futuregrowth Asset Management, een van die bank se krediteure, sê uitleners het vroeg in November besonderhede oor voorwaardes aan die nasionale tesourie en die bank verskaf, maar wag nog op terugvoer.
Die voorwaardes word deur die meeste van die Suid-Afrikaanse uitleners ondersteun, sê sy in ’n inligtingstuk wat op 10 Maart uitgereik is.
“Ons bekommernis, wat ons ook voorheen gelug het, is dat die vertragings, wat nie van ons kant af is nie, die risiko meebring dat ons in ’n kommersieel onverdedigbare oplossing ingedwing kan word. Dit is duidelik ’n onvaarbare posisie vir ons as trustees en kurators van die nasie se spaargeld.”
Constantatos het by navraag gesê ’n voorbeeld van ’n kommersieel onverdedigbare oplossing sou wees as verskillende krediteure verskillend behandel sou word, “veral omdat ons almal pari passu-krediteure (met gelyke regte) is en die Land Bank onderneem het om met die herstrukturering (van die skuld) by Insol-beginsels te hou, wat vereis dat alle krediteure billik behandel word”. Insol is ’n internasionale federasie vir nasionale verenigings van rekenmeesters en prokureurs.
“Ons was duidelik daaroor dat die oplossing billik teenoor alle krediteure moet wees en ’n geskikte risiko-beloningsraamwerk moet hê. Die Suid-Afrikaanse uitleners is almal kommersiële finansiers, hetsy banke of instellings, en ons vereis ’n geskikte opbrengs vir die risko, dus vir ’n kommersiële uitleen-transaksie.
“Ons glo dit is moontlik om ’n oplossing te vind wat vir alle belanghebbers aanvaarbaar is,” sê Constatatos.
Sakeredding sou tegnies ’n moontlikheid kon wees, maar Constantatos sê uit ’n wetlike oogpunt is die Land Bank nie onderhewig aan die Maatskappyewet nie. Sakeredding is deel van dié wet.
Kommer oor reddingsboei
Constantatos sê daar is intussen groot kommer oor die beskikbaarheid van die bykomende R5 miljard wat vroeër as deel van die reddingsboei aan die bank toegeken is en in die begroting van Februarie 2022 vir die bank geoormerk is. Die geld moet klaarblyklik teen 31 Maart vanjaar bestee word, anders gaan dit terug na die fiskus toe, sê sy. Die geld moet dus weer aan die bank geoormerk word.
“Dit skep ’n beduidende risiko aan alle uitleners. Ons wag op die nasionale tesourie se uitklaring oor die voorwaardes van sy betaling van hierdie ekwiteit en die meganisme daarvan, gegewe dat ons nog nie ’n ooreenkoms oor die (skuld)oplossing bereik het nie.”
Vertragings skep risiko’s
Drie jaar is volgens Constantatos ’n lang tyd vir die onderhandeling van so ’n skuldoplossingsooreenkoms, selfs met inagneming van die ontwrigting wat die covid-19-pandemie meegebring het.
Die vertragings skep ’n beduidende risiko vir Futuregrowth se kliënte. Dit voorspel ook niks goeds vir ander ingewikkelder oplossings wat by ander ondernemings in staatsbesit mag nodig wees nie.
“Ons bly daartoe verbind om ons rol te speel om ’n billike en kommersieel sinvolle ooreenkoms vir ons kliënte te beding, wat tot ’n volhoubare Land Bank sal lei,” sê sy.
Die bank diens intussen die rente op sy skuldinstrumente.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.