
Die Land Bank wil in sy 2018-boekjaar R1 miljard se finansiering aan swart entrepreneurs voorsien om in voorafbepaalde landbouprodukte soos vrugte en neute te belê.
Mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof, sê die bank wil ook R500 miljoen in spesifieke voedsel- en landbouverwerkingsondernemings belê om swart nyweraars te ondersteun. Dié bedrae is deel van sowat R3 miljard wat die bank in sy 2018-boekjaar in die landbousektor deur finansiering wil toeken.
Nchocho het by 'n media-inligtingsessie gesê die bank se strategie vir ontwikkelingsfinansiering is daarop gemik om die sektor op 'n inklusiewe grondslag te laat groei. Landbouweekblad het vroeër vanjaar berig oor R1,3 miljard wat die Wêreldbank aan die Land Bank toegeken het, wat een van die bank se bronne vir sy beplande groei in finansiering is.
Het 700 nuwe boere ondersteunNchocho het gesê in die afgelope produksieseisoen het die bank meer as 700 opkomende boere deur middel van samewerkingsooreenkomste met landbouvennote ondersteun.
Die groothandelfinansieringsproduk wat die bank gebruik het om dié lenings te finansier, het die afgelope jaar (tot 31 Maart 2017) meer as verdubbel, van R389 miljoen tot R849 miljoen.
• Nchocho het gesê die bank wil gevestigde boere met finansiering en raad ondersteun sodat hulle kapitale beleggings sal onderneem, hul boerderybedrywighede sal moderniseer en hul ondernemings sal laat groei.
Die bank wil ook toenemend aandag gee aan bedrywe wat potensiaal het vir groot groei en wil sy blootstelling aan tuinbou verdubbel.
Volgens Nchocho is die bank se grootste uitdagings die ekonomie se trae groei, die koste van kapitaal, die bank se vermoë om tegniese of bedryfservaring te gee, onvoldoende sinergie met die Regering se hulpprogramme en dat sy programme nie jong mense en vroue voldoende betrek nie.
* Lees die grafiek van die Land Bank se finansiering van die landbou hieronder. (Die syfers is Rand miljard.)