
Die Land Bank sê hy het ’n mate van vordering met sy likiditeitsprobleme gemaak en kon bedryfskapitaal en produksiekrediet vir die nuwe plantseisoen aan sy bestaande kliënte verskaf.
Die bank, wat sedert April verlede jaar telkemale nie sy betalerverpligting kon nakom nie, het in ’n verklaring gesê hy het homself gereed gemaak om sy bestaande kliënte ten volle vir die komende seisoen te ondersteun.
Hy het verder reeds R11,4 miljard van sy skuld aan sy uitleners betaal, wat die bedrag wat hy sedert sy wanbetaling skuld, met 28% verminder het.
Die bank sê hy kon sy finansieringskuld verminder deur sy normale invordering van kliëntpaaiemente, lenings wat betaal is deurdat kliënte na ander finansiële instellings geskuif het, en deur ontslae te raak van bates wat nie as deel van sy kernsake beskou word nie. Die terugbetaling van skuld bly vir hom ’n voorrangsaak.
Soeke na oplossings
Die bank sê dit is ingewikkeld om ’n oplossing vir sy wanbetaling te vind wat aanvaarbaar is vir die bank self, sy uitleners en die staat, en hy het reeds oor drie moontlike oplossings met sy uitleners onderhandel. Op versoek van die uitleners word sy leningsboek nou onafhanklik beoordeel.
Hy het sommige van sy leningsboeke wat deur ander ondernemings bestuur is, self oorgeneem en het ook, ná ongunstige bevindings deur die ouditeur-generaal, ’n herstelplan in werking gestel.
Die bank sê terwyl ’n aanspreeklikheidsoplossing hom sal dwing om sy leningsbates te verminder, is dit ook belangrik om sy volhoubaarheid op lang termyn te beskerm. Die nasionale tesourie het R7 miljard aan die bank toegewys, wat in die 2021-’21- tot 2023-’24-boekjare aan die bank betaal word om sy skuld mee te verminder en om as grondslag vir toekomstige groei te dien.
Hy het ’n strategie ontwikkel om nuwe doelwitte in sy mandaat in te sluit en gaan hom op die medium-termyn toespits op groei in sy ontwikkelings- en transformasiesake deur vennootskappe met die openbare én private sektor.