
Die eens sukkelende Land Bank gaan steeds van krag tot krag met sy jongste finansiële verslag wat aandui dat die bank voortgaan om sy netto wins en sy leningsboek te laat groei.
Die bank het in die afgelope boekjaar, 2013-’14, sy netto wins tot R394,3 miljoen laat groei teenoor die vorige jaar se R304,6 miljoen. Dit is vanweë die beduidende groei van sy leningsboek en meer doeltreffende funksionering.
Sy leningsboek het van R26,5 miljard tot R33 miljard gegroei en sy markaandeel het met sowat 'n persentasiepunt gestyg. Sy agterstallige lenings (nie-presterende lenings) maak nou ook net 3,2% van die totale leningsboek uit. Aan die einde van die vorige boekjaar het dié syfer op 4,9% gestaan.
Me. Lindiwe Mdlalose, waarnemende uitvoerende hoof van die Land Bank, het by die bekendmaking van die verslag gesê die bank se gesonde finansiële uitkyk en goeie korporatiewe bestuur stel hom in staat om ander potensiële beleggers en multilaterale befondsers teen relatief mededingende koerse te lok.
Mdlalose het gesê die landbousektor het gunstige vordering vir die tydperk tot Desember 2013 getoon in vergelyking met die vorige jaar. Die bruto waarde van landbouproduksie vir 2013 was sowat R187,6 miljard, wat ‘n styging van 8,5% met die vorige jaar verteenwoordig.
Mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, het vroeër vanjaar in sy departement se begrotingsrede gesê die Rsegering sal die bank met R500 miljoen herkapitaliseer. Dié herkapitalisering vorm deel van die R3,5 miljard wat in 2009 bewillig is sodat die bank ‘n groter fokus op die ontwikkeling van ontwikkelende boere kon plaas, asook om sy toé afnemende kapitaaltoereikendheidsverhouding aan te spreek.