Die Land Bank het vroeër vanjaar aangedui hy maak hoofsaaklik staat op invorderings van kliënte se uitstaande skuld om die instelling se ligte aan te hou. Dié opmerking is in Mei gemaak toe die bank planne om uit sy finansiële verknorsing te kom, aan ’n parlementêre komitee voorgelê het.
Geen nuwe lenings word ook tans aan boere gegee nie, terwyl die bank konsentreer op skuldinvordering om uit sy benarde posisie te kom. Van die bank se kliëntebasis van 4 179, is daar reeds sowat 1 012 wat aan regsprosesse en/of invordering onderworpe is.
Volgens die bank se voorlegging aan die gekose komitee oor finansies het die ingekontrakteerde leningportefeulje van tussengangervennote ’n beduidende vlak van nie-presterende lenings en onderpresterende lenings (76%).