Mnr. Sydney Soundy, uitvoerende bestuurder vir strategie en kommunikasie by die Land Bank, het die bank se nuwe strategie gister uiteengesit op ’n geleentheid in Centurion waar die bank en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vroeër die dag ook ’n skema vir gemengde finansiering aan swart boere bekend gestel het.
Die Land Bank beskryf homself nou as ’n spesialis-instelling vir ontwikkelingsfinansiering wat ’n spesifieke gaping in die ekonomie wil vul en wat ’n balans wil handhaaf tussen finansiële volhoubaarheid en ontwikkelingsuitkomste om betekenisvol tot die ontwikkeling en transformasie van die landbou by te dra.
Die manier waarop die bank self gefinansier word, is nog ’n probleem vir sy ontwikkelingsmandaat waarvolgens hy bekostigbare finansiering aan klein en mediumgrootte boere wil bied.