President Jacob Zuma se staatsrede, wat landbou as ‘n sleutelbedryf vir die regering uitgelig het, is deur die Land Bank verwelkom.
Zuma het klem gelê op die sektor se vermoë om werk te skep, die platteland te ontwikkel en voedselsekerheid te bewerkstellig. Mnr. Phakamani Hadebe, hoof van die Land Bank, sê landbou help nie net om werk op die platteland te skep nie, maar bied ook ‘n geleentheid om verstedeliking te beperk.
“Die platteland ontvolk grootliks as gevolg van ‘n tekort aan ekonomiese geleenthede.” Hadebe meen die landbousektor is besig om sy kop op te lig en daar is al meer geleenthede vir die vestiging van opkomende boere.
Vloedsteun
Die Land Bank het blykbaar planne in plek om steun aan boere te gee wat in vloednood verkeer. Mnr. Congress Mahlangu, woordvoerder van die bank, wou nie besonderhede verstrek nie, maar het gesê dat meer inligting eersdaags beskikbaar sal wees.
“Ons werk nou saam met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake om te verseker dat die betrokke boere bystand kry. Terselfdertyd werk ons ook saam met die IDC (voormalige Nywerheidsontwikkelingskorporasie) om reddingsprogramme aan diegene wat die hardste deur die ramp getref is, te bied – vernaam binne die landbousektor.”
Besproeiing
Suid-Afrika het meer as 300 besproeiingskemas, maar die meeste daarvan is in ‘n gehawende toestand. Hadebe sê daar is baie redes vir die verval, soos die onttrekking van regeringsteun sedert 1994.
“Die bank is oortuig daarvan dat dié skemas in goeie areas val om opkomende vrugteboere te vestig. Om dié rede is ons dankbaar dat die herlewing daarvan nou op só ‘n hoë vlak aandag geniet wat tot ‘n veranderende landboulandskap mag lei.”
Hadebe sê dit is interessant dat die meerderheid van dié skemas meestal in voormalige tuislande in Limpopo en die Oos-Kaap gevestig is.
“Dit is twee provinsies waar van die land se grootste hoeveelhede arm Suid-Afrikaners woon.”
17 Februarie 2011