
’n Verslag oor die ekonomiese impak van die bedryf op die Suid-Afrikaanse ekonomie wys dit sorg vir heelwat ekonomiese aktiwiteite wat nie net regstreeks nie, maar ook in die bedryf se waardeketting plaasvind.
Die grootste gedeelte van die sektor se impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie is danksy die vervaardiging en verkoop van bier, volgens die verslag deur Oxford Economics.
Die sektor se verskaffingskanaal speel net so ’n beduidende rol in die bedryf se ekonomiese bydrae en vermoë om werk te skep.
Die verslag toon die sektor en sy waardeketting, wat die landbou insluit, het in 2019 reeds R71 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. Dit was toe verantwoordelik vir 249 000 werksgeleenthede.
In 2019 het vervaardigers van bier R33 miljard se goedere en dienste by Suid-Afrikaanse maatskappye gekoop waarvan R900 miljoen van die plaaslike landbousektor verkry is.
“In Suid-Afrika maak bier saak. Baie Suid-Afrikaners, soos die produsente van hops en gars, speel ’n rol in die land se biersektor,” luidens die verslag wat deur die biervereniging van Suid-Afrika (Basa) aangevra is.
Me. Patricia Pillay, uitvoerende hoof van Basa, het onlangs tydens ’n gesprek oor die verslag gesê die landbou is daarom een van die pilare van die plaaslike bierbedryf.
Sy het gesê die bedryf is ook ’n goeie voorbeeld van een wat werk skep en gemeenskappe ondersteun. “Vir elke werksgeleentheid wat ’n Suid-Afrikaanse biervervaardiger skep, ontstaan daar nog ses in die sektor se waardeketting.”
Volgens die verslag kan een uit 66 werksgeleenthede in die land aan die biersektor gekoppel word, terwyl dié verhouding wêreldwyd 1:110 is.
Mnr. Jordi Borrut, besturende direkteur van Heineken Suid-Afrika, glo die Suid-Afrikaanse biersektor vertel ’n sterk plaaslike storie omdat dit steun op die landboubedryf, plaaslike broubedrywighede en plaaslike verbruik.
Herstel van covid
Hoewel covid-19 en die regering se regulasies en verbod op drankverkope die bedryf vir twee jaar op die agtervoet gesit het, is dit weer op dreef om te herstel.
Mnr. Richard Rivet-Carnacc, uitvoerende hoof van AnheuserBusch InBev wat Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) besit, sê SAB se prentjie in 2022 is dieselfde as wat dit in 2019 voor die uitbreking van covid-19 was. “Die werklikheid is dat hoewel herstel plaasvind, ons nou eers weer is by die vlakke van 2019.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.