
Die organisasie het deelgeneem aan die debat op Agri Noordwes se jaarkongres oor vraagstukke in die landbou.
Mnr. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het gesê landelike ekonomieë is onder druk en Noordwes in besonder is erg getref. Noordwes is een van die provinsies waar staatsverval en skadelike beleid landelike ekonomiese sukses die meeste beperk. Wanneer die ekonomie ’n dekade lank versleg het, moet gevra word of die strategie om die probleem op te los verander moet word.
Soos met enige besigheid is die sukses van die landbou afhanklik van die omstandighede van die gemeenskap. “Uit die simptome wat ons sien, al kyk ons net uit ’n landboubedryf oogpunt, ervaar ons om ons die verval wat dit baie moeilik maak om ons aktiwiteite voort te sit.” Van die simptome wat wys hoe sleg dit gaan, is slaggate, wanfunksionele dorpe, kragonderbrekings, onveiligheid en ekonomiese verdunning.
Hy glo aangesien die landbou weet hoe om die ruggraat van dorpe te wees, kan die bedryf ’n verskil maak. Hoewel dit moeilik gaan met die sektor in sekere dele van Suid-Afrika, is dit tog ’n kapitaalkragtige bedryf waar ondernemings langtermynbesteding aangaan. Met die sektor se goeie netwerke en vertrouensverhoudinge het dit gesag en invloed om ’n verskil te maak.
Rol van Agri SA
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê die politieke, ekonomiese en maatskaplike krisisse wat in die gesig gestaar word, vra van Agri SA om ’n baie breër rol te vervul as bloot net ’n verskaffer van bepaalde dienste aan sy lede. “Die konteks waarin Suid-Afrika homself op die oomblik bevind, skep ’n geleentheid vir Agri SA en sy affiliasies om ’n leierskapsrol te vervul deur eenheid te bevorder, nie net in eie geledere nie, maar ook met nasiebou.
“Want nié net beskerm en bevorder dit die belange van alle boere en die breë landboubedryf terwyl dit boere op voetsoolvlak bemagtig nie, dit vervul ook ’n grondwetlike rol soos omskryf in artikel 27 van die Grondwet. Dit is die reg tot voldoende voedsel.”
Hierdie verpligting plaas Agri SA midde-in ’n politiek-ekonomiese omgewing waarvan dit nooit kan ontsnap nie. Dit is ’n uiters onstuimige en gepolariseerde omgewing wat deurtrek is van raspolitiek, onkunde, irrasionele politieke denke en uitsprake, politieke opportunisme en beleide wat verdere wantroue, polarisasie en marginalisering te weeg bring.
“Dit is ’n ongenaakbare omgewing, waarin die verlede ’n vrugbare teelaarde bied vir radikale beleidstandpunte soos onteiening sonder vergoeding, die nasionalisering van grond óf die plasing van sekere grond onder voogdyskap en waar daar geen agting is vir die ekonomiese gevolge daarvan nie.
“Agri SA kan egter nooit sy rug keer op dié omgewing nie. Hierdie omgewing bied juis nou die geleentheid om intens betrokke te bly, die beste kundigheid te ontplooi om die beïnvloedingswerk te doen, prakties haalbare voorstelle en oplossings na die tafel te bring en om waar nodig die regsgeldigheid van sekere besluite in die howe te toets.”
Deelname
Aktiewe deelname aan openbare verhore, parlementêre prosesse, skakeling met die presidensie, kabinetslede, staatsdepartemente, staatsondernemings, betrokkenheid by verskeie plaaslike en internasionale platforms en by verskeie inisiatiewe wat daarop afgestem is om die maatskaplike omstandighede van gemeenskappe te verbeter, beteken dus nié dat Agri SA besig is om gesonde ekonomiese beginsels in gedrang te bring nie, korrupsie en wanbestuur goedkeur óf om namens die sektor oor grond en ander fundamentele regte te onderhandel nie.
Inteendeel, Agri SA benut die geleenthede wat die bestaande demokrasie en regstaat bied om die belange van die landbousektor en Suid-Afrika in die breë te bevorder en te beskerm, het Van der Rheede gesê.