
Landbouleiers het in hul Nuwejaarsboodskappe almal verwys na die wyse waarop die landbousektor die afgelope jaar probleme in geleenthede omskep het en die vertroue uitgespreek dat 2022 nog ’n suksesvolle jaar sal wees.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hy vertrou dat die landbousektor net van krag tot krag sal gaan. Die afgelope jaar was dit by tye ’n opdraande stryd om kosproduksie en die verspreiding daarvan seepglad te laat verloop. “Die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het ons almal baie bekommerd gemaak. Maar die georganiseerde landbou kon met goeie gesprekvoering met die presidensie en kabinetslede, die polisie en weermag en vele ander belanghebbendes die situasie help normaliseer.”
Hy verwys na kwessies soos die poging om artikel 25 van die Grondwet te verander en die uitbrekings van dieresiektes, sprinkane en vele ander plae. “Met veerkragtigheid, aanpasbaarheid en innovering slaag die landbousektor egter elke keer daarin om die terugslae en struikelblokke te bowe te kom. Hierin lê die waarde van ons landbousektor opgesluit. Hierdie waarde is tot groot voordeel vir die Suid-Afrika, want nie net verseker dit kos op die tafel vir almal in die land en ook vir uitvoer na die buiteland nie, maar dit verdien buitelandse valuta en skep werk vir meer as 800 000 werkers en hul families.”
Van der Rheede glo 2022 lyk op die oog af of dit ’n goeie jaar kan wees. “Oral reën dit en in sommige gebiede hopeloos te veel, maar eerder dit as dat ons jare lank in droogte vasgevang word. Die landboutoestande in hierdie gebiede is baie gunstig nadat dit goeie reën ontvang het. Die Karoo-gebiede in die Noord-Kaap en Oos-Kaap wat die afgelope vyf tot agt jaar langdurige droogte ervaar het, het nou genadiglik goeie reën ontvang. Die reën bring nie net fisieke geleenthede nie, maar dit bring ook spirituele verligting en hoop.”
Uiteenlopende toestande
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê uiteenlopende toestande word steeds ervaar in verskillende streke in die land. Toe die organisasie begin Desember droogtehulp aan mense in die Nood-Kaap verskaf het, was daar oorstromings wat selfs windpompe en sonkragstelsels weggespoel het. In dieselfde distrikte was daar egter plase wat skaars 3 mm reën gekry het. “Boere het deur die jare geleer om die veranderlikes te hanteer soos dit na vore kom. Die toekomsverwagtinge van enige boer is optimisties – dit is die wese van boerdery.”
Hy sê die landbouwaardeketting se belangrikste belanghebbendes is verbruikers en die kommersiële boere wat toesien dat daar voldoende en veilige kos op almal se tafels beland. “Mag ons in die nuwe jaar ervaar dat die belangrikheid van juis hierdie twee groepe hul regmatige erkenning kry.”
Jaar van aksie
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreld-boere-organisasie (WBO), vra boere moet 2022 ’n jaar van aksie maak. “Ek wil elke boer uitdaag om ’n verbintenis aan te gaan teenoor sy plaas en sy familie. As elke boer homself daarop kan toespits om sy klein deel van hierdie planeet aan die volgende geslag oor te dra in ’n beter toestand as waarin hy dit gekry het, los ons 90% van ons probleme met betrekking tot biodiversiteit, bewaring, besoedeling, grondaftakeling en klimaat op. Elke boer weet presies wat hy of sy beter kan doen – kom ons doen dit!”
Hy sê boere reg oor die wêreld het die ontwrigting van waardekettings, skakeling met markte en veranderende verbruikersvoorkeure as gevolg van die covid-19-inperkings ervaar. Dit het hulle gedwing om hul ondernemingstrategieë te hersien. In baie gevalle moes hulle hul ondernemings herstruktureer, nie net om te oorleef nie, maar om te floreer.
“Mense het nie gedurende die inperking ophou eet nie, maar hul eetgewoontes het verander. Hulle het weer teruggekeer na gesinsmaaltye, tuisgekookte geregte, eie resepte en selfs hul eie groentetuine aangeplant in die weke en maande dat kantore en fabrieke gesluit was. “Aan die een kant het dit gelei tot surplusse op plase en miljoene kilogramme aartappels en liters melk wat nie verkoop kon word nie. Aan die ander kant het miljoene mense, veral in Afrika, Latyns-Amerika en Suidoos-Asië hul werk, lewensbestaan en huishoudelike voedselsekerheid verloor.”
De Jager sê die wêreld se boere produseer steeds genoeg kos om almal te voed, maar die kos is nie waar die honger mense is nie en hulle kan baie keer ook nie bekostig om daarvoor te betaal nie. Die kern van die globale agenda by die Verenigde Nasies se agentskappe sowel as die WBO het in 2021 gehandel oor voedselstelsels, voedselproduksie en die impak daarvan op die omgewing.“Ons het gesorg dat die boer se stem by hierdie debatte gehoor is. Ons het dit reggekry om die boodskap aan beleidmakers en verbruikers oor te dra dat boere nie die probleem is nie, maar dat ons in werklikheid die enigste oplossing is wat hulle het. Daarom verdien ons ’n plek aan die tafel en moet ons in 2022 die oplossings wat ons voorgestel het, toepas.”