
Volgens die fonds se berekeninge was die onderverhaling in die prys van petrol op 17 April 41c per liter, terwyl dit 48c vir ’n liter diesel was. As dié neiging die res van die maand voortduur, kan dit beteken dat die prys van petrol en diesel in Mei met meer as 40c per liter kan styg. Dit sal volg op ’n prysstyging van 72c per liter petrol en 65,2c per liter diesel in April.
Dit is dus moontlik dat die prys van diesel binne twee maande met R1 per liter kan styg.
Die algemene reël met brandstofprysstygings vir landbou-insetkoste is dat elke 1c waarmee die prys van diesel styg ’n verhoging van R10 miljoen per jaar aan brandstofkoste in die landbou tot gevolg het.
“ ’n Styging van R1 per liter oor twee maande sal dus ’n styging van R1 miljard per jaar in die landbou se regstreekse insetkoste tot gevolg hê,” sê mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB.
Frustrasie
Die feit dat ’n groot deel van die hoë styging in April se brandstofpryse met verhoogde belasting verband hou, verhoog die bedryf se frustrasievlakke. “Geld wat met belasting ingesamel word, moet onder meer vir die instandhouding van paaie gebruik word. Die teendeel is egter waar. In baie gevalle betaal boere nie net meer belasting vir swakker paaie nie, maar hulle moet ook meer betaal om bande te vervang of om instandhouding te doen aan voertuie wat weens slegte paaie beskadig word.”
Maree sê verhogings in brandstofkoste lei ook tot hoër koste vir boere wat kontrakteurs gebruik om vragte of produkte van en na plase te vervoer. “Dié verhoogde koste het uiteindelik ook ’n impak op voerkoste.”
Dit duur ongeveer drie tot vier maande tot hoër brandstofkoste die totale waardeketting bereik. Dit sal dan ’n regstreekse uitwerking hê op die verbruiker se vermoë om kos te kan koop, asook op die inflasiekoers.
“My raad aan boere is om dieselaankope betyds te doen om die uitwerking van dieselprysstygings vry te spring, veral met die eerste oeste wat reeds in Mei in die ooste van Suid-Afrika gestroop word,” sê Maree.