Die Departement vir Landbou, Bosbou en Visserye het ‘n ongekwalifiseerde of skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) gekry, maar onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes is wel beklemtoon.
Dié 2009/’10-jaarverslag is die eerste een nadat visserye en bosbou by die departement gevoeg is.
Die departement het onreëlmatige uitgawes van R15,1 miljoen aangegaan toe hy nie aan prosedures van die verskaffingsketting voldoen het nie. Vrugtelose en vermorste uitgawes van R12,197 miljoen is aangegaan toe 33 navigasietoestelle (GPSe) teen R200 000, ‘n perseel teen R6,413 miljoen by die kwarantynstasie in Durban aangekoop is en nog koste van R5,584 miljoen wat verband hou met die koop van die perseel.
Die OG het uitgelig dat die rekenpligtige amptenaar nie sy oorsig met betrekking tot verslagdoening en die voldoening van die wette, regulasies en interne kontrole met die nodige verantwoordelikheid gedoen het nie. Hy het gesê dat die bestuur van die departement nie die vereistes van werkverrigtingsbestuur en verwante prosesse verstaan nie.
Die departement se huidige prosesse vir verslaggewing is nie geskik om akkurate en betroubare verslaglewering te fasiliteer nie, het die OG gesê. Nog ‘n kwessie wat uitgelig word is dat ‘n onafhanklike maatskappy deur die departement gevra is om ‘n ondersoek na bewerings van onreëlmatighede in die departement te doen.
Dié oortredings sluit in bewerings rakende onreëlmatighede wat aanskaffing betref, werwing en bevordering van personeel en bestuur, administrasie en kontrole oor projekfondse.
11 Oktober 2010