
Suid-Afrika se landbousektor het lankal sy veerkragtigheid en robuustheid in tye van teëspoed getoon, maar hy moet ook onthou om nuwe oorlewingsplanne te beraam vir die jongste plaaslike en internasionale probleme.
Dr. John Purcase, landbou-ekonoom en sake-ontleder, het op die sitrusnavorsingsimposium daarop gewys dat ’n groot deel van die wêreld reeds te kampe het met ’n toenemende voedselonsekerheidskrisis wat grootliks voortspruit uit die bogenoemde faktore. Dit word vererger deur die feit dat baie lande naby die drakrag vir hul menslike bevolking en/of die kapasiteit van hul landbouproduksie is, of dit reeds oorskry het. Dié lande sal al hoe meer van hul voedsel en vesel van buite hul grense moet verkry.
“Behalwe vir China het Suid-Afrika gemiddeld die laagste voedselinflasie ter wêreld, omdat Suid-Afrika oorproduseer. Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder en daarom is die meeste pryse van plaaslike voedsel by uitvoerpariteit. Suid-Afrika is dalk ’n betreklik klein vissie in ’n groot dam, maar Suid-Afrika vervul steeds ’n belangrike rol om tot globale voedselsekerheid by te dra.
“Ons moet net regtig innoverend dink oor volhoubaarheid en oor hoe ons aanpas. Ons moet slim boks om beduidende voordeel in ’n hoogs mededingende, ekonomies diverse en polities gepolariseerde wêreldekonomie te kan trek.”
Hy het bygevoeg dat ’n skyn van stabiliteit terugkeer in globale landbou-voedselstelsels. Die aard, duur en impak – veral op handel – van voortdurende en moontlik nuwe geopolitieke aangeleenthede bly egter onseker.
Purchase het gesê dat Suid-Afrika se sagtevrugteproduksie en -handel, insluitend dié van sitrus, uiters belangrike bydraes lewer tot Suid-Afrika se positiewe handelsbalans van meer as $5 miljard (ongeveer R84 miljard). Sowat 35% van Suid-Afrika se totale uitvoer bestaan uit vars vrugte. Sitrus is onder die topdrie op die ranglys.
Die buitelandse valuta wat deur die uitvoer van sagtevrugte verdien word, is noodsaaklik om te help om die Suid-Afrikaanse rand te stabiliseer. Op sy beurt help dit om plaaslike inflasie, ook voedselprysinflasie, onder beheer te hou.
Buitelandse beleid
Hy het die kommer uitgespreek dat tensy die Suid-Afrikaanse regering dringend ’n gunstige omgewing vir die land se landbousektor skep om te floreer en te groei, ongunstige ramings vir Suid-Afrika se ekonomiese groei nou en in die komende jare waarskynlik nie omgekeer sal word nie. Die regering se pogings moet nie net die ontwikkeling van hulpvaardige beleid insluit nie, maar ook verbeterings ten opsigte van logistiek, finansies, innovasie, navorsing, ontwikkeling en transformasie aandryf.
“Die Suid-Afrikaanse regering se huidige buitelandse beleid om neutraliteit en nie-belyning te probeer handhaaf, is ’n gladde en gevaarlike koers. Dit kan ons byt omdat dit lyk of die regering die Weste wil paai, maar ook aan die kant van die Brics-groepering en van die meer outoritêre lande wil wees. Die seine wat ons kry, is dat dit nie volhoubaar is nie. Ons het markte in albei groepering, ook vir ons sitrus, en dit kan in gevaar gestel word as die Suid-Afrikaanse regering nie vinniger beweeg om die groeiende botsende druk van weerskante te hanteer nie.”
Hy het gesê al hierdie probleme en bedreigings, asook ander ongenoemdes, plaas groot druk op die winsgewendheid van Suid-Afrika se sitrus- en ander landbouwaardekettings. Boere en ander belanghebbendes in hierdie waardekettings moet hul ondernemings ’n spanningsdruktoets laat ondergaan en innoverend begin dink oor hoe hulle daarop gemik is om die storms wat hulle op kort tot mediumtermyn in die gesig staar, suksesvol kan navigeer. Dit is noodsaaklik om proaktief en samewerkend te wees.