Die aankondiging deur die mynbougroep Canyon Coal, ’n mynmaatskappy wat hom toelê op eksplorasiewerk en die myn en verwerking van steenkool, dat hy ’n nuwe steenkoolmyn, Gugulethu, naby Hendrina in Mpumalanga gaan bou, het nie gunstige reaksie uit landbougeledere ontlok nie. Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou sê daar was die afgelope tyd ’n vloed aansoeke van maatskappye wat vir steenkool wil myn, veral op Mpumalanga se Hoëveld.
Die eerste fase van die mynbouprojek van R1,4 miljard sal binne die volgende 8-10 maande afgehandel wees, het Canyon Coal in 'n verklaring gesê. Sodra hierdie fase voltooi is, sal die myn sowat 1,2 miljoen ton steenkool per jaar lewer.
“As ek sommerso uit die vuis moet skat. sal ek sê daar is meer as 100 mynlisensie- en omgewingstoestemmingsaansoeke waarvoor ons as belanghebbende party geregistreer is,” sê Davel.