
Vrystaat Landbou het ’n memorandum aan me. Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, oorhandig om onmiddellike optrede rakende die swak toestand van paaie reg oor die Vrystaat te eis. Ntombele was op ’n besoek aan die Hoopstad-omgewing, maar verteenwoordigers van Vrystaat Landbou meen dat dit bloot ’n publisiteitsfoefie was.
“Die huidige vervalle toestand van die meeste Vrystaatse paaie kan nie net aan die swaar reën toegeskryf word nie, maar aan swak bestuur en verwaarlosing deur die Vrystaatse regering,” lui die openingsverklaring van die memorandum wat aan die premier oorhandig is.
“Dit was merkwaardig om vanoggend skielik padinstandhoudingsmasjinerie op paaie te sien verskyn om onbegaanbare paaie te ‘herstel’ net voor haar aankoms. Dit bewys dat die provinsiale regering nie net bewus is van ons padprobleme nie, maar wel die vermoë het om paaie reg te maak as dit polities gerieflik is om dit te doen,” sê mnr. Jakkals le Roux, verteenwoordiger van VL.
Die memorandum eis onder meer dat professionele ingenieursfirmas gebruik word wanneer paaie reggemaak word, dat mnr. William Bulwane, die LUR vir polisie, paaie en vervoer, die begroting en planne vir padinstandhouding in die provinsie aan die publiek beskikbaar stel en dat die topswaar struktuur van die departement dringend hersien word om geld beskikbaar te maak om meer heeltydse algemene werkers en skraper-operateurs in diens te neem wat paaie kan onderhou.
Vrystaat Landbou veroordeel die misbruik van staatsgeld soos uitgelig in die ouditeur-generaal se verslag en dat die nasionale infrastruktuur toegelaat word om dermate te verval dat dit ’n groot impak op die plaaslike, provinsiale en nasionale ekonomie het, asook die vermoë van die private sektor om werk te skep en boere om kos te lewer.
Dr. Jack Armour, handelsbestuurder van VL, sê die organisasie sal openbare druk op die premier en verantwoordelike amptenare handhaaf om paaie reg te maak. “Burgers betaal buitensporige bedrae belasting aan die regering, maar tog kry ons al hoe minder waarde vir geld. Ons kan nie toelaat dat korrupsie en wanbestuur ons vermoë om voedsel vir die nasie te produseer belemmer nie.”
Padprojek bring verligting in Noordwes
Naby Kameel is begin met ’n projek om 400 km se grondpaaie in Noordwes begaanbaar te maak. Die projek, wat as gesamentlike poging tussen NWK, Agri NW en Noordwes se departement van openbare werke en paaie, van stapel gestuur is, kom nadat NWK ’n memorandum van verstandhouding met die departement onderteken het.
Die memorandum bepaal onder meer dat NWK sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak. Die maatskappy skenk ook gereeld teer om slaggate in Lichtenburg se sentrale sakegebied te herstel.
Vir die grondpadprojek, met die samewerking van Agri NW, is nagenoeg R500 000 beskikbaar gestel vir die eerste fase, wat na verwagting vier weke sal duur. Met die stroopseisoen onderweg, sal in hierdie fase gekonsentreer word op grondpaaie wat na en van NWK se silokomplekse lei, sodat boere hul graanoeste so maklik as moontlik by die silo’s kan kry.
“Ons paaie is in ’n haglike toestand en dit lei tot groot ontevredenheid in die gemeenskap. Elkeen wat die paaie gebruik, ly skade. Die vervalle paaie het NWK al geruime tyd gelede gedwing om ’n ooreenkoms met die provinsiale regering te sluit sodat iets aan die situasie gedoen kon word,” sê mnr. Theo Rabe, uitvoerende hoof van NWK. “Al die skade wat gely word, veral deur ons produsente, dra by tot die stygende prys van voedsel. Veral die prys van arm gemeenskappe se hoofbron van voedsel bly styg weens skade aan toerusting en die ontoeganklikheid van paaie.”
NWK het onlangs die nodige magtiging en vrywaring bekom om, met die samewerking van ander sakevennote, aan grondpaaie te begin werk. ’n Kontrakteur is onmiddellik aangestel om die paaie te skraap. Paaie rondom onder meer Rostrataville, Sannieshof, Boschpoort, Coligny, Grootpan, Lusthof en Taaiboschpan gaan geskraap word.
“Die padnetwerk is noodsaaklik om die hele voedselproduksieketting doeltreffend te laat werk en te sorg dat eindverbruikers bekostigbare voedsel op hul tafels het. Die bydraes deur vennote soos NWK en Agri NW sal help om uitgawes vir die produsent en uiteindelik die eindverbruiker, laer te hou,” sê Rabe. “Dit sal boonop ander padgebruikers wat met busse en taxi’s op hierdie paaie na hul werkplekke en skole moet reis, bevoordeel. Baie vragmotors gebruik ook hierdie paaie om graan na verwerkingsaanlegte te vervoer.”
Ander paaie in Noordwes sal in komende fases van die projek aandag kry.