
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking van FNB Landbou, het op die jaarlikse simposium van die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika in Mosselbaai gesê verskeie faktore kniehalter egter steeds vooruitgang wat slegs oorkom kan word deur aan te pas.
Volgens Maree is Suid-Afrika ’n ontwikkelende, klein en oop ekonomie. Alle faktore in die ekonomie het ’n impak op elkeen in die land.
Kommer bestaan wêreldwyd oor ekonomiese herstel. Dit lyk egter asof inflasie ’n hoogtepunt bereik het en terugdraai. In China is dit veral laag, maar in Japan is dit nog ’n probleem.
Vir vanjaar word voorspel dat die ekonomie in Amerika met 0,6% gaan groei, in Europa met 0,5% en in China met 5,3%. Daar is dus onsekerheid in die markte. Banke in die Amerika wat ineenstort, hou nie te veel risiko vir Suid-Afrika in nie, maar as nog ineenstort, kan dit ’n sneeubaleffek meebring. In die Europa is daar ’n verlangsaming in die ekonomie en die moontlikheid van ’n resessie bestaan.
Goeie landboujaar
Plaaslik het die ekonomie in 2020 met 7% ingekrimp. Daarteenoor het die landbou ’n uitskieterjaar beleef met 13% groei. In 2020 het die landbou met 8,3% gegroei, in die tweede kwartaal van 2021 swak gevaar met -7,7% groei, maar in die derde kwartaal herstel met 19,2%.
Maree het gesê in Suid-Afrika het beurtkrag ’n groot invloed op alle vooruitskattings. Hoë rentekoerse, duur brandstof en stygende voedselpryse plaas huishoudings onder druk. Dit lyk egter asof inflasie onder beheer is, met laer brandstofpryse, voedselpryse wat stabiliseer, laer wêreldwye inflasie en minder probleme in die voorsieningsketting.
In die volgende jaar kan ’n verlaging in die rentekoers verwag word. Voedselprysinflasie was die rede vir die styging in Suid-Afrika se inflasiekoers en die groot risiko bly brandstof- en voedselpryse en beurtkrag. Die vloeibaarheid in die wisselkoers van die rand, wat sedert 2022 baie verswak het, het in- en uitvoer beïnvloed. Die verwagting is dat dit teen die einde van die jaar effens sal herstel.
Groeivooruitsigte
Verskeie faktore kniehalter die Suid-Afrikaanse landbou se groeivooruitsigte. Van die eksterne faktore is die styging van insetkoste soos elektrisiteit wat met sowat 18% gaan styg, duurder brandstof, kunsmis, voer en vervoerkoste. Die belangrikste handelsvennote het geen-tariefversperrings op sitrus, wol en vleis ingestel. Bottelnekke ontstaan ook in logistiek en die verskeping van produkte.
Ander binnelandse faktore is die algehele vernietiging van die pad- en spoornetwerk, hoë vlakke van misdaad en diefstal wat boere se infrastruktuur en oeste vernietig, die krisis met elektrisiteit wat ’n invloed het op besproeiing, verpakking en verkoeling, en plaaslike munisipaliteite wat geen dienste lewer nie.
Graanmarkte verhandel al geruime tyd onder uitvoerpariteit. Dit word deur die weer, die wisselkoers en internasionale markte beïnvloed.
Maree het gesê die landbou sal moet aanpas om te oorleef. “Ons moet besluit wie ons wil wees. Ons moet relevant bly, aanpas om in die mark te bly en ingelig bly. Konsentreer op dit wat jy kan beheer. Moenie anderkant toe kyk as daar ’n probleem is. Wees innoverend. Gebruik wat jy kan beheer en bekostig.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.