Die landboubedryf se balansstaat dui aan dat die bedryf agteruit beweeg, aldus ’n verslag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ’n berig op Sake24.com sê dié verslag vir die boekjaar tot einde Junie 2011, pryse wat vir landbouprodukte ontvang is, het met 4,3% gestyg vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
In teenstelling daarmee het produksiekoste vir dieselfde tydperk met 13,2% gestyg vergeleke met die vorige boekjaar.
Plaasinkomste
Inkomste uit saaigewasse het met 12% gedaal, terwyl die inkomste uit diereprodukte met 4,7% gestyg het. Die prys van kunsmis het tussen die twee boekjare met 22,5% gestyg, terwyl die prys van brandstof 5,7% hoër was.
Luidens die berig het die volume plaasprodukte dieselfde gebly. Die bruto plaasinkomste het, vergeleke met die vorige boekjaar, met 0,4% gedaal tot R131 699 miljard. Die netto plaasinkomste het in dieselfde tydperk met 18,3% tot R 33 161 miljard afgeneem.
Die bedryf se ruilvoet het teen die einde van Junie vanjaar op 0,86 te staan gekom, terwyl dit einde Junie verlede jaar 0,93% was.
Werklikheid
Mnr. Ernst Janovsky, die hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, sê dié syfers beeld die ekonomiese bewegings van die landboubedryf redelik akkuraat uit. Hy sê op lang termyn staar ’n kosteknyptang van sowat 3% per jaar die boer in die gesig.
Hy sê daar is twee maniere waarop ’n boer dié knyptang se invloed kan teenwerk. Die eerste is om sy produksie en sy boerdery te vergroot. Die tweede is om oorhoofse koste te begin besnoei deur op ’n groter skaal te boer. “Dit beteken dat kleinboere al hoe meer uitgefaseer gaan word.”
Janovsky sê weens dié bewegings stem hy in ’n mate saam met prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, wat voorspel dat Suid-Afrika teen 2050 net 7 500 kommersiële boere kan oorhê.
“Boere se bedrywe gaan al hoe groter en al hoe meer kommersieel word om te kan oorleef,” aldus Janovsky.
Bron: Sake24.com
12 September 2011