
Die inligting is Donderdag deur me. Mmamoloko Kubayi, minister van menslike nedersettings, bekend gemaak. Sy het saam met mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, die media ingelig oor die vordering met die regering se ekonomiese heropbou-en-herstelplan. ’n Samevattende blik is gegooi op die vordering wat van November 2020 tot 30 Junie 2022 met die plan gemaak is.
Volgens Kubayi het die landbousektor se produksie, produktiwiteit en inkomste in 2021 ’n toename getoon teenoor 2019.
“Kommoditeitspryse het gehelp met die land se herstel, maar hierdie steun is net tydelik van aard. Die daling in die pryse van kommoditeite steun nie Suid-Afrika se ekonomiese groei nie en is ook nie goed vir die land se staatsinkomste uit belasting nie.”
Groei in die eerste helfte van die jaar is ’n mengsel van die sterk bruto binnelandse produk van die eerste kwartaal van die jaar met die skokke in die tweede kwartaal wat die land getref het, soos die vloede in KwaZulu-Natal, stygende inflasie en beurtkrag.
Sedert die plan die lig gesien het, is 5 053 ha landbougrond volgens die minister gerehabiliteer.
Sy het ook verwys na Eskom en gesê elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika is onder druk en onbetroubaar.
Volgens die regering is daar vordering en impak getoon met verskeie makro-ekonomiese verbeterings in die program.
Water
Die vestiging van ’n onafhanklike reguleerder vir water, die finalisering van die prysstrategie vir water en die probleme en onvermoë van munisipaliteite met die verspreiding van water is van die plan se inisiatiewe waar struikelblokke nog oorkom moet word.
Die vestiging van ’n nasionale agentskap vir waterinfrastruktuur is afgehandel.
Handelsbedrywighede
Die regering gee sy hernude steun aan Suid-Afrikaanse sake-ondernemings en wil onder meer lokalisering bevorder en uitvoer aanmoedig.
“Die hoeveelheid ingevoerde produkte kan verminder word, maar terselfdertyd moet die doeltreffendheid van plaaslike produsente verbeter word. Dit is ook nodig om die mededingende sektore wat uitvoer betref, verder te ontwikkel sodat die verkope van Suid-Afrikaanse produkte op die vasteland en in die res van die wêreld uitgebrei kan word.”
Volgens die minister sal die regering hierdie doelwitte kan bereik deur sekere invoer met plaaslike produkte te vervang, die aktiewe aanmoediging van beleggings en handelsbedrywighede in die streek en die res van Afrika.
Hawens en spoorwegnetwerk
Volgens die minister het die land se hawens hul doeltreffendheid verbeter, al is daar nog struikelblokke.
Sy het melding gemaak dat Suid-Afrika se hawens, veral Durban, begin afsteek teen die Maputo-hawe wat al hoe gewilder raak as uitvoerbestemming van produkte uit Suider-Afrika.
Die deurvoer van stappe om dit vir derde partye moontlik te maak om toegang tot Suid-Afrika se spoorwegnetwerk te kry, is ook op dreef.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.