Die landbousektor het verlede jaar meer as 150 000 werkgeleenthede geskep, met die meeste – ’n verwagte 66 000 – in die derde kwartaal, sê me. Tina Joemat-Petersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Sy het tydens die stigting van die Aksieforum (Delivery Forum) gesê met sulke werksgroei kan die bedryf nie meer uitgebeeld word as ’n bedryf wat agteruitgaan nie.
Joemat-Pettersson is baie bly oor die werkgeleenthede wat geskep is, aangesien die bedryf die afgelope paar jaar jaarliks ’n verlies van 100 000 werkgeleenthede aangeteken.
“Ons is versigtig optimisties oor werkskepping in die sektor en sal graag wil hê dat meer volhoubare werkgeleenthede geskep moet word,” aldus die Minister.
Infrastruktuur
Joemat-Pettersson sê die Regering se voorrangsaak is infrastruktuur in die sektor. Pres. Jacob Zuma het die infrastruktuur-koördineringskomitee byeengeroep, waaroor hy self toesig hou, wat ook dié sektor se behoeftes geïdentifiseer het.
Een van die belangrikste punte waarop gefokus word, is die uitbreiding van besproeiingskemas, veral in die voormalige tuislande. Nog ’n kwessie is spoorvervoer.
Weens die bydraes van die georganiseerde landbou, waarvoor Joemat-Pettersson mnre. Hans van der Merwe en Johannes Möller van Agri SA by name vir hulle bydraes bedank het, het die staat besef dat ook spoorvervoer verbeter moet word.
’n Derde kwessie wat Joemat-Pettersson genoem het, is watergebruik. “Ons mag dalk nie ooreenstem wat waterlisensies en dies meer betref nie, maar die hele sektor sal gekniehalter word as ons nie meer water het om te gebruik nie.”
16 Maart 2012