
Die wetsontwerp op koolstofbelasting is verlede November deur mnr. Tito Mboweni, Minister van Finansies, bekend gestel. Dié wetgewing sal ’n sleutelrol vervul om die Regering se beleid ten opsigte van klimaatsverandering toe te pas.
Dit is geskoei op die beginsel dat die besoedelaar vir sy oormatige koolsuurgasvrystelling moet betaal. As die wetgewing onderteken word voordat die Parlement in reses gaan voor die verkiesing, sal die eerste siklus van toepassing strek vanaf 1 June 2019 tot 31 Desember 2022. Die primêre landbou is uitgesluit van die eerste siklus.
Die tweede siklus, waarby die landbou en bosbou ingesluit sal word, sal strek vanaf 2023 tot 2030.
Minimum loon
Intussen is ’n voorgestelde wysiging aan die wetgewing ten opsigte van die nasionale minimum loon aanvaar. Die wysiging het gevolg nadat ’n verwysingsfout ingesluip het. Dié fout sal nou reggestel word.
Die terugwerkendheid van die toepassing van ’n seksie wat aandui dat dit onregverdige arbeidspraktyk is vir werkgewers om lone, werksure of ander voorwaardes van indiensneming te verander met betrekking tot die toepassing van die minimum loon, is aan die verkeerde klousule van die wet gekoppel.
Die gevolg was dat dit verkeerdelik aandui dat die betaling van die minimum loon terugwerkend is tot 1 Mei 2017.
Die twee stukke wetgewing sal nou na die Nasionale Raad vir Provinsies gaan vir aanvaarding.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.