
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê hierdie inkomste wat die landbousektor met uitvoer verdien het, is veral indrukwekkend as in ag geneem word dat die uitbreking van bek-en-klouseer ’n aantal struikelblokke vir handel veroorsaak het, onder meer ’n verbod op die uitvoer van wol, terwyl globale logistieke kwessies ’n demper op sitrus se uitvoervolumes geplaas het.
“Die uitstekende uitvoerverdienste en gevolglike handelsurplus vir die landbou is verder onderskraag deur stewige uitvoervraag wat gepaardgegaan het met sterk kommoditeitspryse. Mielies het veral uitgeskiet met volumes wat ver bo historiese vlakke is.”
Makube sê die hoër inkomste sal boere help om die impak van hoë insetkoste te versag en om die nodige produksie-uitbreidings te maak, en toerusting en masjinerie te vervang. Laasgenoemde word reeds weerspieël in trekker- en stroperverkope wat in die eerste sewe maande van die jaar met onderskeidelik 20% en 50% toegeneem het vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
“Nog ’n voordeel van die sektor se goeie uitvoer is die positiewe bydrae tot die land se betalingsbalans en die groei van die algehele bruto binnelandse produk.”
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die goeie groeisyfer verwelkom. Sy het in ’n verklaring onderneem om te soek na nuwe uitvoermarkte vir Suid-Afrika. Didiza sê die private sektor het reeds aangedui dat daar ’n behoefte is om sy teenwoordigheid in lande soos Japan, China, Saoedi-Arabië, Bangladesj, die Filippyne en Suid-Korea uit te brei. “Ons wil ons landbouhandel met hierdie lande versterk, terwyl ons bande behou met die bestaande handelsvennote wat ons uitvoer-georiënteerde landbousektor ondersteun.”
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê onder die vernaamste uitvoerprodukte was sitrus, mielies, appels, pere, wyn, druiwe, vye, avokado’s, neute, vrugtesappe, koring, wol en suiker. “Ons verwag dat van hierdie produkte steeds in die derde kwartaal die lys van uitvoerprodukte sal oorheers.”
Hy skryf die goeie uitvoer veral toe aan goeie oeste in die 2021-’22-produksieseisoen en in die algemeen ’n groot internasionale vraag ondanks hoër kommoditeitspryse vir mielies. Die uitvoer van mielies, appels, pere, druiwe en sonneblomolie het veral aansienlik gestyg teenoor die eerste kwartaal om op te maak vir die afname in sitrusuitvoer.
Volgens Sihlobo was sitrus in waarde in die tweede kwartaal steeds Suid-Afrika se topuitvoerproduk al was uitvoer 22% laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Uitvoer na die Swartsee word benadeel deur die oorlog in Oekraïne. Voor die inval het Rusland gemiddeld 7% van Suid-Afrika se sitrus ten opsigte van waarde ingevoer.
“Baie sal nou afhang van onderhandelinge tussen Suid-Afrika en die Europese Unie (EU) oor die nuwe plantveiligheidsregulasies wat streng kouebehandeling verg om valskodlingmot te bestry. Suid-Afrika het reeds streng maatreëls ter bestryding daarvan.”
Hoewel die kwessie oor marktoegang in China vir Suid-Afrikaanse wol vir eers opgelos is, het woluitvoer in die tweede kwartaal met 42% gedaal teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Afrika steeds grootste mark
Wat uitvoerbestemmings betref, sê Sihlobo Afrika bly Suid-Afrika se grootste uitvoermark. In die eerste kwartaal vanjaar is 35% van die waarde van landbouprodukte daarheen uitgevoer, daarna het Asië gevolg met 28%, die EU met 21%, Brittanje met 7% en die oorblywende 9% na die Amerikas en ander dele van die wêreld.
“Handel is die kern van Suid-Afrika se landbouvooruitgang. Uitbreiding op die grond moet opgevolg word met beter marktoegang tot ’n verskeidenheid markte en logistieke doeltreffendheid om die landbou se volhoubaarheid te verseker.”
Hy sê daar word deurgaans met belanghebbendes oor logistiek onderhandel. “Transnet het met groot behendigheid die Durbanhawe ná die verwoestende vloede in April vanjaar herbou. Soortgelyke ywer en fokus is nodig om alle hawens en spoorvervoer te verbeter. Daar is ook ’n risiko dat die padnetwerk uitvoer kan vertraag as daar nie verbetering aangebring word nie.”
Sihlobo sê Suid-Afrika is ’n aansienlike invoerder van landbouprodukte soos koring, rys, palmolie, sonneblomolie en hoendervleis. In die tweede kwartaal vanjaar het invoer op ’n jaargrondslag met 10% gestyg tot $1,9 miljard (R32,7 miljard). Dit het Suid-Afrika met ’n landbou-handelsurplus van meer as $1,4 miljard (R24 miljard) gelaat.