
Die landbousake-vertrouensindeks het in die laaste kwartaal van 2021 tot sy tweede hoogste vlak ooit gestyg sedert die indeks in 2001 begin is. Die indeks het tot 74 punte gestyg nadat dit in die derde kwartaal nog op 67 gestaan het.
Die indeks, wat kwartaalliks deur die landbousakekamer Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie uitgereik word, is nou ver bo die neutrale vlak van 50 punte wat dui daarop dat landboubesighede baie optimisties is oor bedryfsomstandighede. Die hoogste vlak nog was in die tweede kwartaal vanjaar toe die indeks tot 75 punte gestyg het.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz en samesteller van die indeks, sê die indeks weerspieël die vooruitsigte vir ’n gunstige 2021-’22-produksieseisoen. “Hoër kommoditeitspryse, tesame met goeie weervooruitsigte vanweë ’n La Niña-stelsel het veroorsaak dat boere geesdriftig plant. Dit kan ook help om die terugslag van hoër produksiekoste aan die begin van die seisoen teen te werk.”
Die indeks is oor die laaste twee weke van November bepaal en sluit landboubesighede in wat in alle subsektore van die bedryf betrokke is. Die vertrouensindeks bestaan uit 10 subsektore wat almal van die derde kwartaal af gestyg het.
“Die subindekse vir omset en netto bedryfsinkomste het met 10 punte en 1 punt onderskeidelik gestyg tot 92 en 85 onderskeidelik. Dit dui op die verbeterde boerdery-inkomste weens groot oeste in die 2020-’21-seisoen vir gesaaides en tuinbouprodukte saam met hoër pryse vir veral graan en oliesade.”
Die subindeks vir die markaandeel van landboubesighede het aanvanklik in die derde kwartaal met 8 punte teruggesak, maar nou weer met 6 punte geklim tot 77. Die indiensnemingsubindeks het met 2 punte gestyg tot 62 en die subindeks vir kapitaalbeleggings het met 22 punte tot 79 gespring, wat die hoogste vlak sedert die tweede kwartaal in 2014 is. Sihlobo sê sommige kenners skryf dit toe aan konsolidasie in die sektor en besteding aan roerende bates soos trekkers en stropers.
Die indeks wat die sentiment vir uitvoer meet, het met 6 punte gestyg tot 79 en ná ’n skerp daling van 30 punte in die subindeks vir ekonomiese toestande het dit nou met 25 punte geklim tot 73. Die indeks vir algemene landboutoestande het gestyg met 18 punte tot 88.
“Die vierde kwartaal se resultate skep ’n prentjie van ’n sektor wat uitsien na nog ’n jaar se positiewe groei,” sê Sihlobo. “Dít is as weersomstandighede gunstig bly en logistieke probleme vir uitvoer oorkom kan word. Ons was bekommerd dat hoë produksiekoste aanplantings sou ontmoedig het, maar die data dui op die teenoorgestelde. Boere plant fluks en probeer voordeel trek uit die gunstige weer en goeie pryse vir hul produkte. Alles dui op nog ’n goeie jaar vir ons landbousektor.”