
Hierdie belegging is deel van die nagenoeg R3 miljard wat vir Kaapstad en die Wes-Kaap in die 2018-’19-boekjaar bewillig is.
Volgens Wesgro sal die beleggings oor ’n tydperk van vyf jaar verwesenlik word en nagenoeg duisend regstreekse werksgeleenthede skep.
Me. Beverly Schäfer, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, sê die belegging van R2,85 miljard is tekenend van die vertroue in die provinsiale ekonomie.
“Met die provinsie wat hom posisioneer as ’n wêreldleier met die vervaardiging van tegnologie- en omgewingsvriendelike produkte, is ons bly om te sien dat van hierdie beleggings in die tegnologie- en afvalsektor gemaak is, terwyl verdere beleggings in die verwerking van landbouprodukte gemaak is, wat ’n voorkeursektor is ingevolge projek Khulisa.” Ekonomiese sektore wat die vinnigste groei en die potensiaal het om werksgeleenthede te skep, word as deel van projek Khulisa in die Wes-Kaap geïdentifiseer.
Belegging in die verwerking van landbouprodukte en vir landboubesighede was altesaam R654,8 miljoen.
Vir die verwerking van vleis is beleggings van R25 miljoen verseker, wat 50 nuwe werksgeleenthede sal bied. Vir die verwerking van voedsel en koeldrank is R125 miljoen verseker, wat 250 werksgeleenthede sal skep. Belegging van R50 miljoen is gekry vir die maak van alkoholiese drankies wat tien nuwe werksgeleenthede sal skep. Belegging in landboubesighede blyk die grootste trekpleister te wees. In vaardigheidsontwikkeling is R45,8 miljoen belê, R180 miljoen in akwakultuur en R229 miljoen in die vervaardiging van koeldranke. Hierdie drie beleggings sal onderskeidelik tien, 132 en 35 werksgeleenthede verseker.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.