
Volgens Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se jongste indeks van landbousakevertroue het die oorhoofse indeks in die tweede kwartaal van vanjaar met 2 punte tot 60 gedaal, maar die subindeks oor algemene ekonomiese toestande het met 5 punte tot 43 gedaal.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê omdat 50 die neutrale punt is, dui die oorhoofse punt van 60 daarop dat landboubesighede breedweg steeds optimisties is oor bedryfstoestande in Suid-Afrika.
Die lae punt oor algemene ekonomiese toestande weerspieël onsekerheid veroorsaak deur geopolitieke spanning, inflasie, ’n verstadiging in internasionale ekonomiese groei en plaaslike faktore soos beurtkrag.
Die subindeks vir algemene landboutoestande het met 6 punte tot 54 gedaal. “Die voortdurende reën wat die someroes effens vertraag het, kon hier ’n invloed op die respondente se sienings gehad het, tesame met die laat reën in die Wes-Kaap vir wintergewasse.”
Hoewel die subindeks vir volume uitvoer met 6 punte tot 71 gedaal, sê Sihlobo dis steeds ’n hoë punt wat op sterk uitvoertoestande dui. Die daling is waarskynlik weens onder meer die tydelike opskorting van die uitvoer van lewendehaweprodukte weens bek-en-klouseer.
Landboubesighede in die sektore vir tuinbou, landboumasjinerie en finansiële dienste het in die subindeks oor markaandeel aangedui hulle verwag swakker toestande en dit het met 5 punte tot 71 gedaal.
Goeie omset verwag
Landbousakelui was in die tweede kwartaal meer optimisties oor omset en dié subindeks het met 7 punte tot 93 gestyg, die hoogste vlak sedert die derde kwartaal van 2015. Sihlobo sê dit is danksy hoër landboukommoditeitspryse en die verwagte goeie oeste vir veldgewasse en tuinbouprodukte.
’n Verrassing in die indeks is die styging van 6 punte tot 73 in die subindeks vir kapitaalbelegging. “Dit is bemoedigende resultate in ’n tyd dat plaasinsetkoste styg en bykomende druk op boere en landboubesighede plaas. ’n Belangrike teken van dié bedrywighede is die verkope van trekkers en stropers, wat in die eerste vyf maande van die jaar positief gebly het. Dit kom ná twee jaar waarin daar reeds stewige verkoopsgroei was.”
Die subindekse vir voorsiening vir swak skuld en vir finansieringskoste het met onderskeidelik 2 en 14 punte tot 43 en 4 gedaal, wat volgens Sihlobo gunstige sienings verteenwoordig. Dit weerspieël boere se finansiële winste van die afgelope twee goeie seisoene, wat hulle in staat stel om hul skuld te diens. Respondente het egter aangedui dat hulle bekommerd is oor stygende insetkoste en verwagte rentekoersstygings.
Risiko’s lê voor
“Die huidige goeie posisie waarin die Suid-Afrikaanse landbou is, moet nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, omdat talle risiko’s voorlê,” sê Sihlobo. “Dit sluit in die stygende pryse van noodsaaklike produksiemiddele soos kunsmis, landbouchemikalieë en brandstof, wat in die komende maande druk op boere en landboubesighede gaan plaas.
“Die voortgesette oorlog tussen Rusland en Oekraïne, en die ontwrigting wat dit vir van ons sleutelvrugte-uitvoermarkte en aanbodkettings veroorsaak het, is ’n groot bekommernis vir die sektor.”
Suid-Afrika kan egter sekere langtermynkwessies self aanpak, soos die doeltreffendheid van hawens, die voorsiening van krag en water, die gehalte van paaie, die bestryding van misdaad wat die spoornetwerk verwoes, en die verbetering van biosekerheid. As die land aan dié probleme kan aandag gee, sal dit volgens Sihlobo ’n baie gunstige uitwerking op langtermyngroei van die sektor hê en gevolglik ook op werkskepping.