
Landbouleiers het aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ’n droewe prentjie geskets oor wat kan gebeur as die landbou nie dringend ondersteuning ontvang om die rampspoedige gevolge van beurtkrag die hoof te bied nie.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê die organisasie het die regering reeds voor Kersfees begin bearbei en benadruk watter ernstige skade beurtkrag boerderye berokken.
Hy het ’n voorbeeld genoem van ’n groenteboer wat oor Desember alleen reeds R1,5 miljoen net aan brandstof moes bestee.
“Intussen het ek ook ’n oproep van ’n melkboer in die Wes-Kaap ontvang wat sê dat hy sy melkafdeling sal moet toemaak, aangesien die syfers net nie meer klop nie. Hierdie kwessie het ’n geweldige negatiewe impak op die hele landboubedryf en met hierdie inligting het ek ook voorgestel dat ons ’n risiko-matriks moet opstel om die implikasie daarvan uit te wys.
“Daar is politieke risiko’s, want as voedselinflasie handuit ruk, kan dit tot politieke onrus lei. Daar is ekonomiese risiko, want produsente kan fisies nie meer bekostig om te boer nie. Daar is implikasies vir werkskepping en daar is ook sosio-maatskaplike risiko’s aangesien misdaad tydens beurtkrag toeneem.
“En laastens is daar biosekuriteitsrisiko’s wat ons ook aan die departement uitgewys het. Die krisis hou dus aansienlike potensiële risiko’s vir die land in.”
Hy het gesê lede van die taakspan wat Didiza opdrag gegee het aangestel moet word, moet uit landbougeledere kom, sodat landbougerigte uitkomste gevind kan word.
Benewens Agri SA was verteenwoordigers van ondermeer die African Farmers’ Association (Afasa), TLU SA, National African Farmers’ Union (Nafu), Graan SA en die Landbousakekamer (Agbiz) tydens die vergadering teenwoordig, sowel as kommoditeitsorganisasies en voedselverwerkers.
Voorstelle
“Agri SA het ook onder meer voorgestel dat daar ’n meer buigsame beurtkragskedule opgestel moet word waar daar byvoorbeeld laer vlakke van beurtkrag aan kritiese landbousektore gegee word, veral daardie sektore wat nou moet oes of besproei vir die volgende drie maande.
“Daar was ook voorstelle om sonkragbeleggings op plase meer bekostigbaar te maak, deur ’n moontlike subsidie. Die probleem gaan nie binne die volgende vyf tot tien jaar weggaan nie en alles dui daarop dat dit net erger gaan raak vorentoe. Ons moet dus werkbare oplossings vind,” het van der Rheede gesê.
Nog ’n voorstel wat Agri SA op die tafel gelê het was ’n beter dieselrabat vir produsente. “Jy kan nie ’n groot besproeiingstelsel met ’n sonkragstelsel aandryf nie, en produsente se brandstofrekeninge om hulle boerderye aan die gang te hou het oor Desember die hoogte ingeskiet. Ons voorstel was dus om produsente wat diesel vir kragopwekking moet aankoop, tegemoet te kom.”
Risiko’s vir graanboere
In ’n aparte voorlegging het mnr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, ook gewys op die gevaar wat die voortslepende energiekrisis op mielies en koringproduksie inhou.
Graan SA se voorlegging wys dat, weens die huidige mieliesurplus, daar nie tans voedselsekerheidskwessies vir Suid-Afrika bestaan nie, maar indien geen mielies meer onder besproeiing verbou sal kan word nie, sal dit tot voedselonsekerheid lei, veral in droër seisoene. Dit sal lei tot aansienlike hoër mieliepryse wat die gemiddelde Suid-Afrikaner nie sal kan bekostig nie.
Boonop wys die verslag, dat produsente nie in piektye besproei nie, maar dat beurtkrag hulle dwing om gedurende tye wanneer elektrisiteitstariewe hoër is, te besproei. Die elektrisiteitskomponent van insetkoste verhoog dus beduidend en het ’n invloed op die winsgewendheid van hulle besproeiingsgewasse.
Beurtkrag laat produsente ook agter raak met hulle besproeiingskedules, en tensy dit reën word hierdie skedules nie weer opgevang nie, wat tot opbrengsverliese lei.
Tesame hiermee word bykomende arbeid benodig om spilpunte in tyd met die beurtkragskedule aan te skakel, terwyl bykomende koste om onderhoud aan aansitters, brekers en transformators uit te voer aangegaan word.
Beurtkrag belemmer ook die bestuur van oesbeskermingsmiddelprogramme, wat tot groot verliese kan lei.
Laer graderings
Graan SA se verslag het ook daarop gewys dat koringboere potensieel miljoene rande weens beurtkrag kan verloor wanneer hulle nie op die regte tye kan besproei nie en graadkwessies voorkom. Die Noord-Kaap sal na verwagting 361 900 ton koring produseer gedurende die 2022-’23 produksieseisoen. Indien die totale opbrengs ’n supergraad-gradering sou ontvang, sal die totale netto-inkomste van die oes rondom R2,58 miljard wees.
Indien die graad van koring egter sou daal na voergraad toe, sal R151 miljoen weens die graadgehalte verloor word.
Sou daar ’n 10% opbrengsverlies weens besproeiingskwessies voorkom, en die gehalte word na voergraad afgegradeer, is die verlies rondom R395 miljoen. Dit is dus duidelik dat ’n antwoord gouer eerder as later benodig word.