Die Zimbabwiese regering bied $3,5 miljard (R58,85 miljard) aan as ’n skikking met wit Zimbabwiese boere wie se plase gewelddadig deur plaasbesettings afgevat is.
Die aanbod is vir verbeterings en bates op die meer as 4 000 plase wat afgevat is. Dit hou nie verband met die grondwaarde self nie, sê mnr. Ben Gilpin, direkteur van die Commercial Farmer’s Union (CFU), wat die meeste kommersiële boere in Zimbabwe verteenwoordig en tans onderhandel met die regering van pres. Emerson Mnangagwa.
Nóg mnr. Perrance Shiri, minister van landbou, nóg amptenare van die departement van finansies het op Bloomberg se navrae oor die aanbod gereageer. Dit is onduidelik waar die land die geld in die hande sal kry om vergoeding te betaal. – Vida Booysen, Bloomberg