Zimbabwe voer jaarliks sowat ’n kwartmiljoen ton nitraat uit Rusland in, en hoewel daar tans genoeg voorraad in die land is vir die koringseisoen, sal daar waarskynlik weinig oor wees teen die mielie-planttyd. Rusland probeer tans produsente keer om nitraat-stikstof uit te voer.
Mnr. Graeme Barr, besturende direkteur van Nutrimaster, ’n kunsmis-invoermaatskappy, sê “daar is geen plan B” nie. “Pryse vir stikstof gaan die hoogte inskiet.” Tabakboere, wat hoër winsmarges het, sal dalk die hoër pryse kan absorbeer, maar nie mielieboere nie, sê hy.
Die Zambiese bioveiligheidsgesag (NBA) het op 11 Maart tydens ’n klopjag op Shoprite- en Choppies-winkels in Lusaka beslag gelê op voedselprodukte wat geneties gemodifiseerde organismes bevat en sonder die nodige permitte te koop aangebied word.