Kenia sal dalk 4 miljoen sakke mielies tariefvry moet invoer om te vergoed vir die minder as verwagte invoer uit Uganda. Luidens ’n verslag van die departement van landbou kan die min voorraad uit Uganda en vertraagde reën dié invoer noodsaak.
“Boere in Uganda hou hul mielievoorraad terug in afwagting op hoër pryse, en ons kry kleiner hoeveelhede.” Daar is ook berigte dat Ugandese mielies nou eerder na Suid-Soedan gaan omdat hulle daar beter pryse kry.
Landbouleiers doen ’n beroep op die regering om voldoende finansiering aan landbounavorsing toe te wys en personeel te laat oplei sodat hulle ’n groter impak op die ekonomie kan maak. Dié beroep is gedoen op die bekendstelling van ’n koalisienetwerk van belanghebbendes vir landboumeganisasie.