
Dit is nie heeltemal regverdig om plase en die res van die land oor dieselfde kam te wil skeer as dit by wetstoepassing en veiligheid kom nie, sê die TLU-SA se assistant-hoofbestuurder, genl. Chris van Zyl.
"Tensy die polisie kan verseker dat boere en die kabinetsministers wat in Bhishop's Court woon, dieselfde vlak van beskerming geniet. Hulle betaal immers dieselfde belasting," sê hy.
Van Zyl het gereageer op voorleggings en verklarings van die polisie en ander belangegroepe tydens die Menseregtekommissie se pas afgelope openbare verhoor oor veiligheid en sekuriteit van plaasgemeenskappe.
Van Zyl sê hy stem saam met dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies dat boere weerloos gelaat is toe oud-pres. Thabo Mbeki die komandostelsel in 2003 afgeskaf het. Sedertdien is twee keer soveel boere as polisielede in Suid-Afrika vermoor en drie keer meer boere as die nasionale gemiddeld vir moorde in die land.
Burger het in sy voorlegging aan die MRK gesê daar is destyds gemeen dat kommando's bloot verlengings van regse groeperings was en dat swartmense nie in die kommandostelsel verteenwoordig was nie
Van Zyl sê egter beide wit en swart mense ly nou onder misdaad in landboudistrikte. Hy sê almal in landelike gebiede is in die steek gelaat deur die Regering en polisie wat nooit Mbeki se beloftes van 'n nuwe burgerlike polisiëringstelsel in die plek van komando's geïmplimenteer het nie.
Howel plaasaanvalle altyd gewelddadig is en aanvallers dikwels rassistiese taal gebruik, het Burger dit in sy voorlegging aan die MRK duidelik gemaak het dat plaasaanvalle op blanke boere nie deur ras of politiek aangedryf word nie, maar suiwer deur die inhaligheid van rowers.
Van Zyl sê die konsep van plaasveiligheid is oor die jare al hoe meer afgewater deur dit te verbreed tot landelike veiligheid. Hy sê hoewel ander misdaad in ander landelike gebiede ook aandag verdien, is dit boere wat vermoor word, meer as enige iemand anders.