
Met plaasaanvalle wat die afgelope maand in verskeie streke in die Wes-Kaap toegeneem het, herinner mnr. Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee, boere daaraan dat hulle hulself moet beveilig deur paraat te wees.
Volgens Agri Wes-Kaap was daar die afgelope maand twee plaasaanvalle by Rawsonville, een by Atlantis en een by Plettenbergbaai.
Hy meen beurtkrag speel ’n beduidende rol in die toename omdat alarmstelsels ’n noodsein uitstuur sodra dit afloop, wat dan veiligheidsmaatskappye met ’n magdom vals noodseine oorweldig. Daarom raai hy boere aan om te verseker hul alarmstelsel is aan ’n onafhanklike en betroubare kragbron gekoppel.
Die volgende maatreëls is ook volgens hom belangrik:
• Dra ’n paniekknoppie by jou, of iets soortgelyk wat ’n noodsein kan uitstuur sodra jy moeilikheid gewaar.
• Hou ’n kamer of veilige plek in jou huis gereed waar jy jouself kan verskans.
• Voor jy uit jou kar klim, wees bewus van jou omgewing en kyk wat aangaan by jou huis, byvoorbeeld is die ligte af of staan die deur oop.
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê plaasaanvalle het ’n ongunstige impak op die provinsie se ekonomie, asook landelike ekonomieë. “Agri Wes-Kaap doen ’n beroep op alle belanghebbendes om betrokke te raak om landelike veiligheid ’n prioriteit te maak.”
Agri Wes-Kaap vra dat boere enige verdagte gedrag dadelik by hul plaaslike polisiekantoor sal aanmeld. Boere is ook welkom om Agri Wes-Kaap te kontak vir verdere steun.